Die Weg

 

Danksegging in plaas van besorgdheid

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” - Filippense 4:6.

Hoe meer ek hierdie teks lees, hoe groter raak my verleentheid. Dit is nie omdat ek die teks verkeerd verstaan nie, eerder die omgekeerde. Die Bybel (en selfs my eie ervaring) leer my dat besorgdheid my niks in die sak bring nie. Dit kan selfs as 'n mosie van wantroue in God se voorsiening beskou word. En nogtans hou ek nie op met kommergedagtes nie.

Maak jou begeertes aan God bekend. Sê vir Hom presies wat jy nodig het, dit wat jou so swaar op die hart lê. Dit gaan hier oor die dinge wat 'n mens bekommer, die dinge waaraan jy min of selfs niks kan doen nie. Sê vir Hom alles en laat dit by Hom soos wat 'n kind sy hartewense by sy pa laat. Pa sal weet wat om te doen. En dan vir die belangrike toevoeging: "met danksegging." Ja, sê sommer by voorbaat dankie dat jy weet Hy weet die beste hoe om op jou gebede te antwoord. Dit is natuurlik nie 'n maklike saak nie: om summier jou bekommernisse vir die Here te gee en dan byvoorbaat dankie te sê. Maar dit is die resep wat vir God se kinders werk.

Kom ons probeer weer. Kom ons oefen onsself daarin om telkens wanneer die kommergedagtes wil oorneem dit met danksegging te vervang. Kom ons bewys ons geloof in God se voorsiening met 'n danklied.

Kommervraat of jubelkind? Wat is jy, en klink laasgenoemde nie na die beter opsie nie?

Uit: “Hoop vir die Lewe” deur Johan Smit. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css