Die Weg

 

Hemelvaart maak die verskil! Wees vol blydskap!

Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees. .. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. ... Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys”   - Lukas 24: 37-53.

Twee berigte oor twee ontmoetings tussen die dissipels en Jesus. By die eerste was hulle doodbang. By die tweede in aanbidding en vol blydskap. Wat het intussen gebeur?

Die hemelvaart het plaasgevind!

Geweldige dinge, te groot vir die menslike verstand, het afgespeel. Jesus het reeds vroeër daaroor gepraat, die ou profete het eeue tevore daarvan vertel ... nou het dit plaasgevind. Ja, dit wat in die gedagtes van geen mens opgekom het nie, so het God dit laat gebeur.

Eers die verskrikking van die kruisdood, dissipels wat weghardloop en wegkruip. Petrus wat sê: “Ek ken Hom nie!” – Drie maal. Dan die vroue wat kom vertel: “Die graf is leeg!” – Watter vroumenspraatjies! Die dissipels het eers gesukkel om te glo.

Jesus verskyn aan hulle. Hulle was doodbang! Hulle het nog nooit so iets beleef nie. Hulle was alleen aan die gesels, skielik is daar nog iemand saam met hulle. ‘n Gees, ‘n spook – dis al waaraan hulle kon dink. Hy begryp hulle vrees. Daarom nooi Jesus hulle: “Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” (Luk 24:39). Jesus oortuig hulle nog verder dat dit Hy is, liggaamlik uit die dood opgewek. Hy eet saam met hulle ‘n stukkie vis! ‘n Ander tipe liggaam as wat Hy gehad het, want nou kon Hy verskyn en verdwyn. Tog ‘n lewende menslike liggaam. Daardie liggaam, wat Hy aangeneem het om ons mense se Verlosser te wees. Hy wat dood was, leef weer!

Jesus maak hulle oë verder oop om die profesieë van die Ou Testament te verstaan. Hy doen wat vroeër deur God beloof is. So is sy werk voltooi. Gesterf, vir sondes betaal, die dood en die Satan oorwin.

En dan word Hy in die hemel opgeneem, as oorwinnaar en Here. Hulle sien seënende hande voordat ‘n wolk Hom verberg. Vol blydskap gaan hulle na Jerusalem. Daar is werk – hulle moet gaan vertel! Hulle sal wag vir die beloofde krag van die Gees. En die Gees het gekom!

Hoeveel blydskap is daar nie vir ons nie! Ons weet dat Jesus die ware Christus is. Hy is Here, Koning. Opgestaan en opgevaar.

Hy stuur ons met die blye evangelie na elkeen wat nog nie in Hom glo nie.

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css