Die Weg

 

Om barmhartigheid te bewys

Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” – Matteus 5:7 OAV.

Daar is ‘n Nederlandse uitdrukking: “Alle hout is nie timmerhout nie”. So is daar ook verskillende soorte van barmhartigheid. Daar is barmhartigheid wat net uit aalmoese bestaan. Dit is die barmhartigheid van die Fariseërs, waaraan ons onself ook skuldig maak. Daar was nog nooit ‘n tyd gewees waarin soveel georganiseerde barmhartigheidsdienste aangebied is as nou nie, maar nooit was daar ‘n tyd gewees waarin die mens so vereensaam gevoel het nie. ‘n Mens kan dit saaklike barmhartigheid noem.

Jesus het dit teen die saaklike barmhartigheid van die Fariseërs. Hulle beursies gaan heel gou oop, maar hul harte bly geslote vir hul naaste. Dit is hartelose en siellose barmhartigheid. Jesus sê aan die Fariseërs: “gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie” (Matt 9:13). Jesus sê ook later: "Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie” (Matt 23:23 NAV).

Ons het alles in die lewe “versaaklik”. Daar word gepraat van die saak van die kerk, die saak van barmhartigheid, die saak van ..... Dit het alles ‘n georganiseerde saak geword, terwyl die eintlik saak juis lê in die mens se persoonlike verhouding tot God en sy naaste. Dit gaan om die mense in nood, stoflike sowel as geestelike nood.

Dit is die tweede soort barmhartigheid en dit is die barmhartigheid waarvan Jesus praat. Dit is egte barmhartigheid wat nie net met ‘n beursie bewys word nie, maar ook met die hart. Dit besoek en ondersteun mense in hulle nood en ellende.  Dit hou nie die nood van ons naaste op ‘n afstand deur skenkings wat net “gewetensgeld” is nie.

Ons het te doen met die lewende God. Omdat God in Christus sy hart aan ons gegee het, daarom vra Hy ons hart. “Ons God gaan nie met ‘n kollekte sakkie rond om ons gawes en fooitjies te vra nie, maar Hy vra jouself, jou hele hart” (ds J. C. Sikkel).

Wanneer Paulus heel ernstig die oordeel van God oor sondaars verkondig, dan doen Hy dit altyd só om by die onuitspreeklike barmhartigheid van God uit te kom: “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde....” ( Ef 2:4 OAV). God wil dat ons van Hom leer wat barmhartigheid is. Soos die Heer is, so is ook die kneg. Soos die Koning is, so is ook die burger. Soos die Vader is, so is ook die kind.

Wanneer God se barmhartigheid ons nie barmhartig maak nie, moet ons ons nie verbeel dat ons uit God se barmhartigheid kan lewe nie. “Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel” (Jak 2:13 NAV). Iemand wat onbarmhartig is, bewys daarmee dat hy nie uit God se barmhartigheid lewe nie.

God is immers die God van die groot “Maar”. “Maar God wat ryk is in barmhartigheid” sê Paulus. Ons het dit verdien om lewenslank in die gevangenis van God se oordeel gewerp te wees. En Jakobus beaam dit as hy sê: “Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel”.

Ons lewe in ‘n harde wêreld, maar midde in hierdie harde wêreld staan Jesus om die barmhartiges salig te spreek, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

(Verwysing: Ds J Overduin - Gods grote verrassing).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css