Die Weg

 

Ons verlange na `n sorgvrye lewe

Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!” – Psalm 68:20.

Alle mense verlang na ‘n sorgvrye lewe, vry van alle laste, angs en verdriet.  Dit is ook die wens wat ouers vir hulle kinders het. Daarom probeer baie ouers om hulle kinders te beskerm teen die sorge, pyn en verdriet van hierdie wêreld. Ouers sal eerder die pyn self wil verduur as om hulle kinders daaraan bloot te stel.

Die werklikheid van die lewe is egter anders as wat ons dit graag wil hê. En alhoewel ons dit nie altyd wil besef nie, het swaarkry ‘n doel.  Dit is die laste van die lewe wat ons na geestelike rypheid lei.  Dit is juis as gevolg daarvan dat ons ‘n dieper insig in die lewe verkry; dat ons die goeie wat ons uit die Hand van God ontvang, werklik kan waardeer, en wat maak dat ons die grote God leer ken sodat ons deur Hom kan leef en Hom kan loof.

Dit is eers wanneer iets wat ons as vanselfsprekend aanvaar, van ons weggeneem word dat ons die waarde daarvan besef. Iemand wat nog nooit met sy bene in gips beland het nie, sal ook nie besef hoe wonderlik dit is om wel te kan loop nie. Maar daar is ‘n groter en meer verhewe doel:

Die pyn en verdriet van hierdie wêreld is deel van die skool van geloof. Dit dwing ons om weg te kyk van onsself en ons eie prestasies, sodat ons ons aandag op ons hemelse Vader kan vestig.  Dit is nie die spronge deur die hoogtepunte in ons lewe wat ons na geestelike volwassenheid lei nie, maar elke tree wat ons gee op ons trek deur die dorsland. En hoe moeiliker hierdie weg is, hoe meer  besef ons dat dit God is wat ons in ‘n bepaalde rigting lei, maar ter selfder tyd ook vir ons die krag daartoe gee om te kan volhard. Ons kan op Hom vertrou dat wanneer die pad vir ons te veel raak en ons begin struikel, Hy tot ons hulp sal kom en ons verder sal dra. Want die uiteindelike doel van God is om ons los te maak van hierdie wêreld, soos wat Johannes dit beskryf: “En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe” (1 Joh 2:17).

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom 12:2).

-dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css