Die Weg

 

Om ware troos te vind

"Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word." - Matteus 5:4.

In Matteus 5:4 wys Jesus vir ons ‘n ander werklikheid: waar ‘n ontroosbare persoon troos kan vind in sy droefheid sodat hy weer regop kan staan en gelukkig kan wees. Maar dan moet ons ook daarby vra of God aanwesig is in ons voorspoed en teëspoed, in ons blydskap en droefheid.

Paulus praat van twee soorte droefheid. ‘n Sieklike droefheid uit wêreldse oorwegings en ‘n gesonde droefheid wat binne in ons werk om ons nader aan God te bring (2 Kor 7:10). Laasgenoemde bring ‘n omkeer in ons lewe, waaroor ons nooit spyt sal wees nie.

Dit is ‘n rampsalige dag wanneer Jesus geen Koning in ons droefheid mag wees en niks te sê het in ons lewens nie; wanneer ons Jesus buite die poorte van ons droefheid hou. Ons sien hierdie droefheid onder andere by Esau en by die ryk jong man (Luk 18:23).

Esau was bedroef omdat hy sy eersgeboorte reg vir ‘n bord sop verkoop het: “hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb 12:17 OAV). Esau was bedroef en boonop nog verbitterd. Maar Esau het nie die troostende God in sy omstandighede toegelaat nie. Die ryk jong man het bedroef van Jesus af weggegaan, met sy dik beursie en al (Luk 18:23). Hy wou nie toelaat dat Jesus Koning in sy lewe word nie.

‘n Mens kan in die afwesigheid van God, eensaam wegkwyn in die spookagtige grotte van armoede en verdriet, maar ook wegskrompel bo-op ‘n dik geldbeurs en ‘n skitterende bestaan. Hierdie mense soek hul vertroosting in die wêreld, maar word uiteindelik bedrieg en teleurgestel, en die uiteinde daarvan is die dood.  Trane van wêreldse droefheid word vrugteloos gestort.

Het hulle maar die Here in hul lewens toegelaat, dan was Esau en die ryk jong man vertroos. Alleen as burger van die Ryk van God, as navolger van Jesus, word ‘n mens vertroos. Dan is Jesus barmhartig en verlossend aanwesig in ons droefheid.

Dis die berouvolle droefheid oor die sonde wat lei tot bekering en uiteindelike saligheid.  Hierdie droefheid word deur die Heilige Gees in ‘n mens gewek en keer die mens na God. Dit is ‘n droefheid gevul met ootmoed teenoor die lewende God en beslis nie sonder hoop nie. Dit is ‘n droefheid wat heil en troos soek, nie by dít wat die verganklike wêreld kan bied nie, maar by die Here wat deur al die eeue heen Sy volk met krag uit hul benoudhede gehelp het.

Droefheid is goed as dit aanleiding gee tot bekering na God. Judas was ook bedroef nadat hy Jesus verraai het. Ons lees in Matteus 26 dat Judas berou gehad het omdat hy Jesus verraai het. As Judas maar in sy bittere berou hom na Jesus gewend het! Maar in plaas daarvan om na Jesus te gaan, neem hy sy wanhoop na die verkeerde adres. Hy soek sy toevlug eers by die familiehoofde en die priesterhoofde. Maar daardie “herders” het geen verlossende en troostende woorde vir Judas in sy uiterste sielenood gehad nie. Hy was uiteindelik op homself aangewese, toe hulle sê: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak” (Matt 27:4). Judas het ‘n doodloopstraat gekies en uiteindelik homself opgehang. Dit is uiterste vereensaming, wanneer die radelose mens op homself aangewese is om raad uit sy eie radeloosheid te put. As Judas hom maar na Jesus gewend het, sou die Heiland gesê het: “jy was verlore maar nou is jy terug by dié plek waar jy werklike troos kan vind”

Die duiwel het geen beswaar teen skuldbesef, geen beswaar teen ontdekkende boeteprediking, geen beswaar teen wanhoop en radeloosheid vanweë die sonde nie. Hy het slegs beswaar teen die aanwesigheid van Jesus wat sê: “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word”.

-dw-
(Verwysing: Ds J Overduin - Gods grote verrassing).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css