Die Weg

 

Om jou Vader te vergeet

Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie. Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel.... ‘n Stem is gehoor op die kaal heuwels, smekende geween van die kinders van Israel, omdat hulle hul weg verdraai het, die HERE hulle God vergeet het” – Jeremia 3:19 -21 (OAV).

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” – Matteus 5:3 (NAV).

As ons na die wêreld om ons kyk, het ons seker die reg om benoud te voel. Ons sien hoe mense, wat na die beeld van God geskape is, ontaard in die beeld van die dier. Die mense, as die kroon van God se skepping, “’n weinig minder as ‘n goddelike wese” ( Ps 8:6 OAV), het uit eie wil hulle weggedraai van God om weinig meer as ‘n dier te word, wat hulself troos met mooi klinkende woorde soos “mense regte” en “vryheid van uitdrukking”.

Maar, sê God oor die mense en volke wat Hom verag: “Ellende wag vir die baie nasies wat net so onstuimig as die see is, die opstandige volke wat te kere gaan soos magtige waters, die opstandige volke wat te kere gaan soos die groot waters. Wanneer die Here hulle aanspreek, sal hulle ver weg vlug, weggedryf oor die berge soos kaf voor die wind, soos tolbosse voor ‘n stormwind” (Jes 17:12-13).

Georg Hegel het gesê: “Ons leer uit die geskiedenis dat ons nie uit die geskiedenis leer nie”. En dit is baie waar, want daar is ‘n groot les te leer uit die geskiedenis van die ou nasies. Ons sien hoe volke gegroei en sterk geword het toe hulle in afhanklikheid van God geleef het, en die verval daarna toe hulle hoogmoedig op hul eie krag vertrou en God se gebooie verontagsaam het. En wat geld vir ‘n volk, geld ook vir die enkeling.

Laat ons maar ook nie te ver weg kyk nie. Hoe lyk dit met onsself en ons eie gemeenskap? In die tyd van ons voorouers was die Bybel nie net die mees geleesde boek nie; sy voorskrifte was ook bindend en is nagekom. Maar met verloop van tyd moes die diens aan God plek maak vir die diens aan die mens. Die mens wou “vry” en ongebonde wees. Godsdiens moes plek maak vir humanisme, wat die vryheid en waarde van die mens vooropstel. Die woorde van Jesus in Matteus hoofstukke 5 tot 7 word geminag. As jy 'n bewys daarvoor vra, skakel maar net die TV aan. Ons word vermaak met misdaad, skandes, sedeloosheid, egbreuk en dalk ook nog pornografie. En wat van die Sabbat?

Dit bring ons by die wet van God (die tien gebooie) waaraan ons voorouers so vasgehou het, en wat vandag deur baie mense opsy geskuif word. Daar is selfs ook Christene wat sê dat Christus die wet vir ons vervul het, en daarom is dit nie meer so letterlik  op ons van toepassing nie. Verkeerd! Jesus het met sy sterwe ‘n einde gemaak aan die seremoniële wette wat met die godsdienstige handelinge van die priesters verband gehou het, want Hyself is die Hoëpriester van die nuwe verbond. Die wet van God, die tien gebooie, staan nog steeds. Jesus sê in Matteus 5:19 die volgende woorde: “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel”.

Nóú is daar nog tyd vir inkeer. “Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ‘n dief in die nag. Wanneer die mense sê: "Alles is rustig en veilig," sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ‘n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie” (1 Tess 5:2-3).

Hoe staan dit met jou gesindheid? Eer jy God as jou Vader aan wie jy getrou wil bly? (Jer 3:19).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css