Die Weg

 

Paasfees (1)

"Wie in die Seun glo, het die ewige lewe" - Johannes 3:36.

Wanneer ek oor die dood en die ewige lewe gepraat het, het ek gewoonlik groot skares getrek. Waarom het hulle na my kom luister? Het hulle ‘n teësin in die lewe gehad? Het hulle ‘n uitvlug uit die leegheid en verveling van die lewe kom soek?

My gesprekke met die gehoor en die briewe wat ek ontvang het, het my op die werklike spoor gebring. Dit gaan oor die vraag wat elke denkende mens kwel. Bestaan my lewe net daaruit dat ek elke dag opstaan, gaan werk, tuis kom, TV kyk en dan weer gaan slaap, totdat my lig eendag geblus word en ek tot stof vergaan?

Daar is een vraag wat my nie los nie. Ek wil iets van die lewe maak en ek moet daarin slaag. Ek is bewus van my verantwoordelikhede. Maar aan wie is ek werklik verantwoordelik? Is dit my eie gewete? Of kom daar eendag die uur van waarheid waar ek verantwoording vir my lewe moet doen? Is alles wat ek hier op aarde gedoen het, pure verniet? Of bestaan daar ‘n ewigheid, waar daar nou alreeds op my gewag word?

Dit bring ons by die tema van Paasfees:

‘n Paar jaar gelede is een van my studente oorlede. Ek het sy hand by sy sterfbed vasgehou. Die oggend om sesuur het die klok van ‘n nabygeleë kapel begin lui. Die sterwende het sy oë oopgemaak: “Hoor u die Paasklokke?”, het hy gevra. (Dit was Oktober en ver van Paastyd). “Nou kom Hy my haal. Ek sien deur die dood. Ek sien die oewer aan die ander kant.”

Wat het gebeur dat die gewone werksdagklok vir hom die Paasgeluid geword het? Was dit ‘n geloof aan die onsterflikheid van die siel wat hom verby die dood laat kyk het? Nee, hy het geweet dat Jesus hom aangeneem het en dat sy Here die Paasvors is. Toe hy die klok hoor, het hy besef: "Jesus wat nog ‘n bitterder dood as ek gesmaak het, wag vir my in die ewigheid. Hy (Jesus) het sy hand op my gelê. Daarom sal Hy my nie in die hand van die dood laat nie".

Dit is die triomfantelike sekerheid van Paasfees. Dus, aan wie vertrou ek my toe? Die venynige kloue van die noodlot, of dié Hand wat my geborgenheid skenk en my ook nie aan die oorkantste oewer sal los nie?

Hieronder is ‘n koraalvers uit die Matteus Passie van J S Bach waarin alles saamgevat word. Oordink dit gerus:

As ek die dag moet gaan,
gaan U dan nie van my!
As ek in die dood moet ly,
tree U dan tussenby!
En as my allerbangste
hart in my wil kwyn:
Ruk U my uit die angste
kragtens U eie angs en pyn! 

Uit: Helmut Thielicke: “Der Christ im Ernstfall” (Vry verwerk)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css