Die Weg

 

Ander mense in nood

Het ek nie trane gestort vir dié wat swaarkry nie, het ek nie meegevoel betoon met die armes nie?” - Job 30:25.

In Job se verhaal is daar baie raakpunte met ons eie lewensverhale. Gewoonlik haak ons aan by Job se swaarkry en hoe hy sukkel om dit te verwerk.

In die teks hierbo is daar 'n ander aspek wat ek graag wil belig. Job getuig hier van sy medelye met mense wat swaargekry het. Dit is 'n mooi selfgetuienis. Ek glo nie hy het dit gedoen om punte te verdien nie. Ek reken eerder dat hy net wil sê hy was nooit onverskillig teenoor mense se nood nie. En dit is die vraag wat ek vandag vir jou wil vra: Hoe voel jy oor mense se nood en wat doen jy daaraan? Ons ken die pad na God as ons eie voete gly, maar hoe dikwels dra ons ander se pyn aan God op? Kom jy fisiek so naby mense wat swaarkry dat jy as 't ware hulle pyn aanvoel en saam met hulle kan huil? Dit is iets wat 'n mens gewoonlik eers aanleer sodra jy self deur donker dieptes moes loop. Maar selfs ook dan, sodra dit weer met jou goed gaan, vergeet jy van ander se ellende.

Jy kan vandag 'n verskil maak aan 'n mens in nood. lewers op jou pad is daar iemand wat 'n woord van bemoediging, 'n finansiële bydrae, 'n handdruk, 'n gebed of dalk jou trane nodig het om die volgende tree te kan gee. Word jy vandag God se liefde vir iemand in nood.

Uit: “Hoop vir die Lewe” deur Johan Smit. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css