Die Weg

 

Jou persoonlike verantwoordelikheid (2)

Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?” – Matteus 6:25.

Die vorige boodskap is afgesluit met hierdie woorde: “Elkeen van ons het ‘n persoonlike verhouding met God, ‘n persoonlike roeping op hierdie aarde  en ‘n persoonlike verantwoordelikheid”.

As iemand vir jou sou sê: “Moet jou nie bekommer nie”, dan sal jy sekerlik kan sê: “dit is maklik vir hom op te praat”. Want elke mens het nou eenmaal ‘n las om te dra. Elke mens het sy eie probleme waarmee hy te kampe het en vir homself moet oplos. “Moet jou nie bekommer nie” kan dalk betrekking hê op blomme, die gras en mossies, maar nie op ons nie. Dit is mos nie die werklikheid van hierdie wêreld nie, of is dit?

Maar inderdaad: Hy, wat ons daartoe oproep, kom nie uit ons wêreld nie. Hy is Jesus Christus, die Seun van God. Terwyl Hy ons daartoe oproep  om ons nie te bekommer nie, verwys Hy ons na ons “hemelse Vader” (Mat 6:26), wat ons ken en begaan is oor ons.

Daarmee egter ontvang ons geen vrypas om die hele dag agteroor te sit en dut nie. Jesus stel dit vir ons anders voor. Hy begin hierdie gedagte-eenheid deur eers vir ons te sê wat belangrik is (Mat 6:24), naamlik dat ons God voorop in ons lewens moet stel: “Julle kan nie God én Mammon dien nie!” en dan sluit Hy dit af met:  “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Mat 6:33). As ons dít doen, kom ons ons belangrikste verantwoordelikheid na, dan rig ons ons lewe na die wil van God. Dan kan ons vorm gee aan ons lewe en vorentoe dink en beplan. Wanneer ons dan ons verantwoordelikheid volgens die wil van God nagekom het, hoef ons ons nie verder te bekommer nie, want God sal vir die res sorg.

 Jesus nooi ons uit om ons sorge in die hande van ons hemelse Vader te plaas. Hy sal ons op die regte oomblik vir ons die krag gee wat ons benodig. Jesus help ons na ‘n lewe met vertroue. Hulle wie hul lewe op hierdie manier aan God toewy, kan kalm die toekoms tegemoet gaan.

- dw- (Met aanhalings van dr. Christoph Morgner in Neukirchener Kalender 2011.)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css