Die Weg

 

Jou persoonlike verantwoordelikheid (1)

“In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.... Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” – Efesiërs 4:17-24.

Ons weet dat ons lewe in die hand van God is, maar besef daarmee saam ook dat ons ‘n eie verantwoordelikheid het vir hierdie lewe. Ons is geen houtpoppe nie, ons is mense. Die woord “mens" dui nie net ons beperktheid aan nie, maar ook ons mag, ons adelstand as kinders van God, en ons verantwoordelikheid soos wat God dit met die mens bedoel het. "U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel" (Heb 2:6-7 OAV). Daarteenoor oefen die duiwel en die wêreld waarin ons woon, groot druk op ons uit om ons rug op God te draai sodat ons van ons verantwoordelikheid kan weghardloop.

Ons moet ons nou egter nie verbeel dat ons almagtig, alwetend en alwys is, sodat ons 'n soort Goddelike aandeel in ons lewe sou hê nie. 'n Mens kan nie bo homself uitstyg en méér wil wees as wat menslik moontlik is nie, dit is, as wat God met die mens bedoel het nie. Aan die anderkant mag 'n mens ook nie dink dat hy net ‘n hoogsontwikkelde dier is wat geen verantwoordelikheid vir sy eie lewe dra nie.

God behandel die mens as mens. As ons ons nie onder Sy Woord stel deur dit te gehoorsaam nie, word ons “on-menslik", al lyk ons ook hoe menslik, want die diepste geheim van ons mens-wees is juis dat God met ons praat en dat ons na Hom kan en moet luister. Ons moet antwoord op God se Woord. Ons verantwoordelikheid is inderdaad ons ver-antwoord-elikheid. Adam is van God vervreem deur  eerder na die duiwel as na God te luister. Dit is ons oersonde en oerskuld.

As God in Jesus Christus sondaars kom soek en red, doen Hy dit deur die sondaar weer onder die heerskappy van die versoenende, verlossende en bevrydende Woord van God te stel. Jesus self is immers die Woord (Joh. 1 : 1). “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie" (Mark 1:5).

Die oproep aan die mens wat hom weggedraai het van God, is dat hy 'n ommekeer moet maak, die goeie nuus moet glo en na die Woord van God moet luister. Hierdie Woord word persoonlik aan elkeen van ons gerig en ons moet elkeen persoonlik daarop antwoord. Wanneer Jesus aan Petrus vertel dat hy wat Petrus is, as martelaar vir Hom sal sterwe (Joh21:18-19), bemoei Petrus hom met Johannes se lewensweg om aan die erns van sy eie, persoonlike verantwoordelikheid te probeer ontsnap. Maar Jesus se antwoord aan hom kom daarop neer dat Petrus se verantwoordelikheid anders is as dié van Johannes. "As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!" (Joh 21:22) Dit geld ook vir elkeen van ons. Elkeen van ons het ‘n persoonlike verhouding met God, ‘n persoonlike roeping op hierdie aarde  en ‘n persoonlike verantwoordelikheid.
(Word vervolg)

-dw- (Met aanhalings uit: Venster op het Leven – ds J Overduin).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css