Die Weg

 

`n God na ons beeld?

Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar” – Johannes 1:18 OAV.

Daar is baie tipes selfgenoegsame godsdienstige mense: panteïstiese, teosofiese, humanistiese, idealistiese...... Dit is merkwaardig hoe mense oor God kan fantaseer en hulle eie denkbeelde van God kan skep. Hoe dikwels hoor ons nie: ”Ek kan my nie voorstel dat God so en so is nie, en as God bestaan, moet Hy so en so wees”. En dan moet God natuurlik só wees soos die persoon dit nou toevallig aanvoel en dink en wens. 

Glo ons werklik dat die grote, ewige God Hom laat onderwerp aan ons maatstawwe en ons gevoelens, ons wensdrome en wat ookal? Dink ons werklik dat ons vanuit onsself kan vertel hoe God is of behoort te wees?  Dan gaan elkeen na sy eie beeld en eie gelykenis vir hom ‘n god maak. Maar as God God is, dan is God nie na ons beeld gemaak nie, maar dan is ons na Sy beeld gemaak(Gen 1:26). Dan is dit vir ons belangriker om te hoor wat God van Homself sê as wat ons van Hom dink. En dan is dit ook vir ons belangriker wat God van ons dink as wat ons van onsself dink. Is dit dan werklik moontlik dat God Hom aan ons bekend gemaak het soos Hy werklik is? 

 Ja. Jesus Christus, wat daarop aanspraak kan maak dat Hy die eniggebore Seun van die Vader is en wat in die boesem van die Vader is, het dit aan ons bekend gemaak. Hy het gekom om ons te vertel dat niemand God ooit gesien het nie, behalwe Hy alleen en dat Hy Hom aan ons verklaar (Joh 1:18). Uit Christus se hele lewe, uit sy woorde en dade blyk dit dat ons in Hom nie te doen het met iemand met ‘n sterk verbeelding, met ‘n mens wat met emosionele en romantiese gevoelens praat nie, maar dat Hy vanuit die een-met-God-wees spreek. Hy is in voortdurende gemeenskap met God. Daarom moet ons groter waarde heg aan wat Jesus oor God sê as wat mense van God wil sê.  Dit is eintlik groot hoogmoed as ons ons bo Christus wil stel en meen dat ons beter weet. Solank as wat ons self geen lewende gemeenskap met God het nie en oor God wil redeneer, doen ons dit as buitestanders, net soos blindes wat oor kleure wil praat. 

As ons ons eie denkbeelde van God maak, dan is ons hele godsdiens ‘n illusie. Dan kan elkeen vir homself ’n god skep soos dit hom en sy lewensomstandighede pas. Ons maak vir ons ‘n god wat ‘n verlengstuk van ons eie verbeelding, opvattinge en lewenstyl is. Dan mag die god geen kritiek op ons uitoefen nie, en dan mag hy ons nie tot bekering roep nie.  ‘n Selfgemaakte god is dalk aangenaam om te hê, want ‘n mens kan hom, as ‘n soort ornament in jou lewe, in die hoek van ‘n kamer plaas, of in ‘n nis. En jy bêre hom in die kas as hy jou nie aanstaan nie. As ek ‘n god het wat heeltemal aan die maatstawwe van my gedagtes en gevoelens beantwoord, dan het ek ‘n maak-god.  Maar dit is nie die lewende God nie.

Die evangelie openbaar ‘n God met wie ons nie kan speel nie en wat ons onder die regverdige oordeel, maar Goddank, ook onder die versoenende vryspraak bring. God moet Hom nie tot my bekeer nie – ek moet my tot God bekeer. God moet nie aan my norme beantwoord nie – ek moet aan God se norme beantwoord. Dan eers word Godsdiens (ons diens aan God) ons erns.

Verwerk uit: Die Evangelie Vandag – ds J Overduin.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css