Die Weg

 

Geen nag meer nie

En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig” – Openbaring 22:5.

Geen nag nie!  Die apostel Johannes praat hier van die Godstad, die nuwe Jerusalem. Daar sal ook geen nag van onkunde en dwaling wees nie.  Hier op aarde is ons kennis maar baie gebrekkig en ons toekoms in newels gehul. Paulus sê in 1 Korintiërs 13: “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken”. Ons dink ons weet baie, maar van ons eie aardse bestaan en veral van die Godsregering en die voorsienigheid van God is daar nog baie onoplosbare geheime wat vir ons verborge sal bly. Op sy beste is die mens ‘n kortsigtige wese wie se oordeel benewel is en wie se toekoms van buite af beheer word.

Ons lewe in ‘n skemerwêreld. Ons sien dinge, maar begryp nie werklik wat ons sien nie. Hoe groot is ons onkunde nie oor God se onbeskryflike liefde, Sy vlekkelose heiligheid, Sy onskendbare regverdigheid en Sy oneindige wysheid nie! Hoe gebrekkig is ons kennis nie van ons eie wese, van die mag van die sonde en van die wêreld waarin ons woon nie!  Hoe dikwels bedrieg ons onsself, raak ons die regte spoor byster en bekommer ons ons onnodig oor wat God in Sy wysheid vir ons bestem het?  Hoe pikdonker lyk die weg vorentoe nie soms vir ons nie? As Christus nie alreeds in ons aardse bestaan vir ons die lig op ons pad sou gegee het nie, sou ons voortdurend op die rampspoedige syweë verval het.

Maar dit sal eendag anders wees. In die Nuwe Jerusalem is daar geen nag nie. Geen nag van sonde en onkunde nie. Die son van God se liefde en trou skyn daar in sy volle glans en deurlig die harte van die geseëndes (Matt 5:3-12 – lees dit gerus!).  Daar sal ons ten volle die hoekoms en die waaroms van die lewe begryp, dít wat ons hier beswaarlik kan glo: dat alle dinge meewerk tot die heil van hulle wat God liefhet. Daar sal ons verstaan waarom ons so baie teleurstellings en teëspoed moes beleef; waarom so baie rampe ons moes tref; waarom so baie trane gestort moes word en waarom baie van ons versugtinge en gebede onverhoord gebly het.

Hoe sal dit nie wees om ons Verlosser van aangesig tot aangesig te sien en Hom te ken soos Hy ons ken nie? Wat ‘n vooruitsig is dit nie om die gloed van hemelse heerlikheid te kan beleef nie? Wanneer die dowwe raaiselagtige beelde waarvan Paulus hierbo skryf, weg sal wees, en ons al die antwoorde sal ken.

Aangesien ons as gelowiges van so ‘n toekoms verseker kan wees, kan ons daarom blymoedig saamsing:

“Kyk, Ek maak alles nuut”, sê God.
“Laat hom wat dors het kom.
En hy sal vind hy is my kind;
Ek is `n God vir hom!”

Oorwinnaars sal ons alles erf
en drink uit die fontein
van lewenswater, heerlik, rein.
En God sal oor ons skyn.

Gebaseer op “Geen nag meer nie” van Dr JF van Heerden.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css