Die Weg

 

Sukses uit afguns?

Ek het gesien dat al die moeite wat mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is ’n gejaag na wind.” - Prediker 4:4.

Ons leef in ‘n geweldige kompeterende wêreld. Sport, besigheid, politiek, arbeidsbetrekkinge – in alles is daar kragte wat teen mekaar opstaan.  Sommige behaal groot suksesse, andere bly onderaan die leer, of verloor selfs alles.

Die Prediker het in sy nadenke oor die sin van alles ook gekyk na die MOTIVERING vir sukses. Hy het bevind dat sukses deur afguns (jaloesie op ander) aangevuur word. Mense wat hard werk, net om ander mense te kan wen in die wedloop van die lewe. Dan sit jy alles wat jy het in jou daaglikse beplanning, baie moeite en energie, om sukses te kan behaal – net omdat jy nie wil hê dat iemand anders beter as jy vaar nie. Op die ou end is dit vir die wyse Prediker sinloos en ‘n gejaag na wind.

Die Here wat ons gemaak het, wat vir ons gawes en vermoëns gegee het, waarsku ons hierin. Wie slegs uit jaloesie aangedryf word, kan dalk suksesvol wees op die kort termyn, maar sal geen langdurige vreugde uit sy/haar harde werk put nie.

Watter tipe sukses gee dan tog arbeidsvreugde? Sukses moet altyd gemeet word aan besig wees of afhandel van dit waartoe die Here jou geroep het. Nie kompetisie met mense nie, nie die hoeveelheid geld wat jy kan maak nie, nie ‘n groot naam onder die mense nie, maar uitvoer van die wil van die Here moet ons motivering wees. Paulus skryf aan die slawe, wat Christene geword het, oor hulle harde werk en moedig aan: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het” (Kol 3:23-24). Hierdie kan ons almal se lewensdoel wees.

Hoe toets ek of my werk “van harte soos vir die Here” is? 

    * Leef ek die liefdesgebod uit in my beroep – liefde vir God en my naaste?

    * Gebruik ek my gawes uit dankbaarheid vir Hom wat dit gegee het, my Skepper?

    * Bou ek net my eie naam op, of is my werk tot opbou van ander se belange?

    * Soek ek my eie eer of vereer ek my Here en Koning deur my werk?

Toets vandag jou diepste motivering vir jou harde werk. Dalk is dit net uit afguns. Laat jou deur die Gees lei om daarvan los te breek en van harte vir die Here te werk.

Dit gee blywende vreugde!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css