Die Weg

 

Skipbreuk van die geloof (3)

en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” – 1 Timoteus 1:19 OAV.

 'n Christen besit 'n goeie gewete as sy verhouding met Christus in orde is. Dit is, as daar niks is wat die innige gemeenskap met Christus versteur nie en as hy bewustelik leef uit die bloed van Christus.

Ons kan natuurlik daardie goeie gewete onderdruk, of soos die teks hierbo uit die 1953 vertaling van die Bybel sê, “wegstoot”. Ons kan dit soos ‘n ongewensde vrag van ons geloofskip afgooi. Ons kan dit, soos Esau, vir iets nikswerd verkwansel. 'n Mens skrik soms as jy agterkom oor watter nietighede mense hul goeie gewete van hulle af wegstoot.

Dit is ’n baie ernstige saak as mense hul goeie gewete kwytraak.  Dan gee hulle die suiwer, onbelemmerde en vrymoedige omgang met Christus prys. Uiterlik kan hulle nog die skyn dra van “fatsoenlike mense”. Ja, en hulle verhouding met die kerk en ander mense kan ook nog gaan. “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie” (2 Tim 3:5 NAV). Die 1953 vertaling van die Bybel stel dit veel sterker: “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”. Daardie baie fyn verbintenis, die omgang met Christus, is nie in orde nie. Hulle het hul “eerste liefde verlaat” (Open 2:4 OAV).

Ons moet nie mense en omstandighede hiervoor die skuld gee nie. Ons het dit self bewustelik en opsetlik gedoen. Die gewete het genoeg geprotesteer. Die gewete het hom nie sommer laat prysgee, wegstoot, of oorboord gooi nie. Dit het, toe jy die verkeerde houding aangeslaan het, toe jy in sonde begin leef het, toe jy in die wêreldse dinge opgegaan het, genoeg appél aangeteken. Maar jy wou nie luister nie. Die gewete het lastig begin word. En toe het jy dit weggestoot – oorboord gegooi.

Dit is 'n kritieke toestand, want hierdie las wat jy die gewete noem, is die ballas (teëgewig) wat jou geloofskip stabiliseer en op koers hou.  Gooi jy dit oorboord, dan gaan jou geloof beslis skipbreuk ly en gaan jy ‘n onsekere toekoms tegemoet in die storms van die lewe.

Verwerk uit “De Stem achter U” deur Ds Gabe van Duinen.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css