Die Weg

 

Skipbreuk van die geloof (2)

Hou vas aan die geloof en behou ‘n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely” - 1 Timoteus 1:19.

Daar is sekere vaste beginsels vasgelê waarop ‘n skip gestuur moet word . Word hierdie beginsels geïgnoreer, kan die skip op die rotse beland (kyk maar wat het in 2012 met die Costa Concordia gebeur) . Net so is daar ook vaste beginsels om te verhoed dat ons geloof skipbreuk ly. Die beginsels vir ons geloof is vasgelê in ons gewete.  En ons gewete word gevorm deur die Woord van God en die lig wat Christus in ons lewens ingebring het. Hoe beter jy die Here in jou persoonlike verhouding met Hom leer ken, hoe betroubaarder word jou gewete.

Geloof en gewete gaan hand aan hand. As ons ons goeie gewete ignoreer of onderdruk, sal ons geloof onherroeplik skipbreuk ly. Dit kan nie anders nie. Om Christus se woorde te verontagsaam en om Christus met ons dade te verloën, kan onmoontlik versoen word met ons vertroue op Christus. Ons kan nie met ons dade die waterfontein van die lewe besoedel en tog met ons geloof smaaklik daaruit wil drink nie. Die twee rym nie met mekaar nie, trouens dit staan lynreg teenoor mekaar. As ons verhouding met Christus deur ons slegte dade verbrokkel, dan verbrokkel ons geloof daarmee saam. ‘n Gesonde geloof kan slegs leef en bloei in die tuin van ‘n goeie gewete.

As ons willens en wetens verkeerde dinge doen en só rebelleer teen dít wat ons weet God van ons verwag, kan ons ons nie met ‘n oop gemoed tot God wend nie. Dan kan ons nie ons knieë eerlik in gebed buig, met ons hart en siel uit die Bybel lees nie. Dan kan ons nie met ‘n ootmoedige en soekende hart in die kerk sit om die seën van God te ontvang nie. Dan word ons ontevrede, dan deug niks meer nie: nie die kerk, die predikant of die preek nie, nie die Bybel en uiteindelik God ook nie meer nie. En dit is omdat ... óns nie meer deug nie. Dan gaan die geur van ons geloof verlore en val die bloeisels van die geloof af voordat dit enige vrug kan dra.

Dan kom daar ‘n groot gat in ons geloofskip. Die stormsee stroom na binne. As dit só met ons lewe gaan, dan gaan ons geloof ook tot niet. Dan ly ons skipbreuk!

 Verwerk uit “De Stem achter U” deur Ds Gabe van Duinen.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css