Die Weg

 

Skipbreuk van die geloof (1)

Hulle (het) ... aan die geloof skipbreuk gely” - 1Timoteus 1:19.

'n Skipbreuk is verskriklik. Dit laat ons dink aan die groot seerampe van weleer, soos dié van die Titanic. Maar selfs vandag nog vergaan skepe op see en hoor ons van skepe wat op die rotse geloop het, met die gevolglike dood en lyding van die mense wat aan boord van daardie skepe was. Die S.O.S.* klink oor al die oseane.

Verskrikliker as dit alles is die skipbreuk van die geloof. Hier gaan dit nie om die geloof in 'n mens of in 'n ding wat uitgeput of tot niet kan gaan nie; mense en dinge wat aan die verganklikheid onderworpe is en waarop jy in elk geval nie jou geloof kan bou nie.

Die geloof wat hier in die dieptes vergaan (en dit is veel ernstiger) is die geloof in Jesus Christus. “Hulle geloof." Ja, inderdaad, hulle glo in die Here Jesus. Hulle het teenoor Hom gesê : “Ek glo, Here." As kinders van Christen ouers is hulle eintlik aan boord van die geloofskip gebore. Later het hulle hul met hul geloofsbelydenis ook persoonlik daaraan verbind. So vaar hulle veilig en tevrede. En sing hulle hartlik saam : “. . . en ook in die swartste nag, op die HERE alleen bly wag”.

En toe het die vreeslike gebeur. Hulle het geleidelik geestelike wrakke geword. Asof in ‘n hewige lewensbotsing is hul geloof in Christus geskok en het hul geloofskip op die rotse geloop. Hul geestelike lewe sink die dieptes in. Uit hul kerkbywoning put hulle niks nie. Die Bybel bly 'n geslote boek. Hulle bid nie meer nie. En uiteindelik breek die hele skip van die geloof middeldeur.

Hierdie skipbreuk van die geloof is 'n innerlike gebeurtenis. Die Here Jesus breek nie, want Hy kan nie breek nie. Maar hul band, hul gemeenskap met die Here Jesus, hul liefde vir die Here Jesus, hul ywer vir die Here Jesus en hul toewyding aan die Here Jesus het gebreek. Hul harte het vir Hom koud geword. Hul geloof het skipbreuk gely! Hulle sink!

S.O.S.! S.O.S.! S.O.S.!*

Ds Gabe van Duinen ( De Stem achter U). (Word vervolg)

*S.O.S is die laaste noodsein van ‘n skip wat in die moeilikheid verkeer. Dit staan vir “Save Our Souls”. 
In Morsekode is dit:  • • • — — — • • •

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css