Die Weg

 

Staan op!

Daarop gaan hy lê en raak onder ‘n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ‘n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet! Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ‘n broodkoek, op warm klippe gebak, en ‘n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel” -1 Konings 19 : 5-7 OAV.

Elia was op die laagtepunt van sy lewe. Sy geestelike krag het tot ‘n einde gekom. Hy het in diepe depressie verval en gehoop dat hy daar onder die besembos in die woestyn sou sterf. Hy het eenvoudig ‘n streep getrek deur alles wat in sy lewe gebeur het.  Hy het selfs vir God vergeet. Hy verwag niks meer van die lewe nie; en ook nie van God nie. Die enigste ding wat hy nog van God vra, is dat hy nou maar toegelaat moet word om te sterf. “Neem nou my siel weg, HERE” (1 Kon 19:4) – dit is, maak nou maar 'n einde aan alles.

Maar God maak nie 'n einde daaraan nie. Inteendeel! God maak 'n nuwe begin. Elia mag nie tou opgooi nie. Dit is nie vir Elia om te bepaal of dit genoeg is nie. Dit is God se reg, en God sal wel sê wanneer Elia sy taak op hierdie aarde voltooi het. Daar lê nog werk vir Elia voor. Hy is nog nie klaar met wat hy moet doen nie. Hy mag nog nie die ewige rus ingaan nie. Hy mag nog nie sterf nie. Twee maal sê God vir hom:  “Staan op!" En daarom wek God hom uit sy verkeerde rus. Die engel maak hom wakker, en as hy weer wil gaan lê, maak die engel hom 'n tweede keer wakker. Elia, die gebroke Elia, die man wat totaal aan die einde van sy kragte gekom en gedink het dat hy genoeg gedoen het, moet opstaan.

Ons kom maar almal op een of ander stadium in ons lewe by ‘n punt waar ons voel dat ons die einde van die pad bereik het; wanneer ons voel dat dit vir ons byna onmoontlik is om voort te gaan. In die Japanse krygsgevangenekampe, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het ek dit in die verskriklikste vorm meegemaak. Ek het nie geweet dat die mens in so 'n ellende kon wegsink nie. En tog, ook daar het die engel ons aangeraak en gesê : “Staan op!" Ook daar het God aan ons gesê “Staan op!" In die dood moes ons  “lewe". Ons moes lewe vir ons vrou en kinders van wie ons nie geweet het of hulle nog leef nie. Ons moes leef vir die mense in die kamp met hul ontsaglike geestelike honger. Nêrens het God vir ons 'n heerliker taak gehad as juis toe, as juis daar nie, daar waar ons gedink het dat alle werk vir ons verby was en ons lewe geen sin meer gehad het nie.  “Staan op!"

Ds Gabe van Duinen (De Stem Achter U)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css