Die Weg

 

Om weg te kyk van die vrees

Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!” – 2 Kronieke 20:21 (OAV).

Ons lees in 2 Kronieke die treffende verhaal van ‘n oorwinning wat met lof aan die HERE behaal is. Koning Josafat van Juda het naamlik berig ontvang dat ‘n groot menigte, uit die rigting van Edom, besig was om teen hom op te trek. Hierdie leër het bestaan uit ‘n alliansie van Moabiete, Ammoniete en Meüniete.

Josafat het die gevaarlike situasie al te duidelik besef, daarom het hy bang geword. Hy en die hele volk van Juda het byeengekom om hulp by die HERE te soek (2 Kron 20:5). Sy gebed was nederig: “In ons is geen krag teen hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie, en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U" (2 Kron. 20:12). Josafat het nou weggekyk van die dreigende gevaar en sy oë op die HERE gevestig. En die HERE het vir Josafat en die volk soos volg laat weet: “Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God." (2 Kron 20:15).

Daarop het Josafat vir die volk gesê: "Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle" (2 Kron 20:20 NAV).  Hy het daarna teen die vyand uitgetrek. Aan die voorpunt van sy manskappe het hy sangers opgestel wat sing: “Loof die HERE want Sy goedertierenheid is tot in ewigheid" (2 Kron 20:21). Dit het hy gedoen hoewel die beloofde verlossing nog nie plaasgevind het nie. Trompop loop Josafat se manskappe die magtige vyand tegemoet terwyl hulle sing: “Loof die HERE!" Dan eers kom die verlossing: ”Op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die Here 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon,  Moab en die mense van die gebergte Seïr ... sodat hulle verslaan is" (2 Kron 20:22). Twee van die geallieerde vyandelike leërs het teen die derde opgetree en hom verdelg en daarna “het hulle mekaar in die verderf gehelp" (2 Kron 20:23) sodat die vallei vol lyke gelê het - “en niemand het vrygeraak nie" (2 Kron 20:24). Hulle het meer gekry as wat hulle verwag het: “Josafat en sy manskappe . . . was drie dae lank besig om die buit in te samel want dit was groot" (2 Kron 20:25). Na die oorwinning wat  die HERE aan hulle gegee het, het Josafat en sy manskappe weer in die Lofdal bymekaargekom om die HERE te loof vir die oorwinning.

Josafat en sy manskappe het twee keer lofliedere tot eer van die HERE gesing in hierdie groot stryd: die loflied vooraf (wat ‘n teken was van hulle diepe geloof in God) en die lied van verlossing agterna.

Vrees is 'n dodelike vyand. Wanneer die versoeking daar is om te bewe, moet ons onthou: “God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie maar van krag en liefde en selfbeheersing"(2 Tim 1:7 OAV). En wanneer die vrees oor ons wil toesak, moet ons ons gelowig, en met die volle besef van ons afhanklikheid van God, tot Hom wend en dan ook loof vir die uitkoms wat Hy sal gee. En dan wanneer Hy die uitkoms gegee het, moet ons Hom weer loof vir dít wat ons van Hom ontvang het.

 Uit: "Streams in the desert" deur Chas E Cowman.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css