Die Weg

 

Ons kan nie met die tyd veg nie!

God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd” - Prediker 3:11.

Die tyd gaan so vinnig verby, amper al weer die einde van die maand!” hoor ek oral. Wat is dit met tyd dat dit so vinnig verbygaan? Of is daar net in ons horlosie en dagboekgedrewe, e-pos en selfoon beheerste gemeenskap ‘n gebrek-aan-tyd-probleem? Want tussen die gejaagde lewe van die stadsmense, motors wat druk om voor in die stroom te kom, voetgangers wat met dowwe oë so vinnig as moontlik koes-koes stap, is daar persone wat heel dag op die sypaadjie sit en wag vir werk, of sommer net sit-lê en wag vir niks!

In Prediker 3 vind ons die refrein dat daar vir elke ding onder die son ‘n vasgestelde tyd is. Dinge gebeur op ‘n tydstip, jy kan dit nie keer of omdraai nie, jy het nie altyd beheer daaroor nie. Soos oor jou geboortedag en sterfdag. Is ons dan maar net slawe van Vader Tyd? Nee, genadiglik nie. Ons lewe is nie onderwerp aan ‘n gesiglose Noodlot nie. Die refrein van “daar is ‘n tyd” loop uit op die versekering: “God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd” (Pred 3:11). God, wat bo die tyd leef, van ewigheid af daar is, het vir sy skepping tyd bepaal. So lees ons dit reeds in die skeppingsverhaal (Gen 1:14): “Hulle (die ligte aan die hemelruim) moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui.” En in Psalm 104 sing ons ‘n loflied: “U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son weet wanneer om onder te gaan.” (Ps 104:19).

Ons kan nie met die tyd veg nie, dit is vasgestel. Die dag sal op sy tyd verby wees, die maand na sy aantal dae, die jare sal verloop soos dit moet. Daaraan het God ‘n vaste orde gegee. Daarvoor kan ons Hom dankbaar wees. Elke mens wat op aarde is, word regverdiglik ewe veel sekondes op ‘n dag gegun.

Maar daar is nog ‘n groter guns wat die Skepper van tyd vir die mens bewys. Iets waaraan die ander lewende wesens op aarde nie deel het nie. “Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd.” (Pred 3:11) In Engels “he has put eternity into man’s heart” (ESV). Toe Jesus, die Seun van God, in die tyd ingekom het deur sy geboorte uit die maagd Maria, is die ewige God se plan vir die mens voltrek. Die mens wat sterflik is, kan deel kry aan die ewigheid. Jesus het beloof: ”Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee” (Joh 6:47,48).

Die uitdaging vir vandag is om nie so in die malle gejaag (rat race) teen tyd vasgevang te word, dat ons hierdie geskenk van die “onbepaalde tyd” verwaarloos nie. Beplan jou dag so, dat jy elke dag met die ewige God ‘n sterker band kan opbou. Neem die brood van die lewe in, die geestelike voedsel van Jesus Christus. Ook daarvoor het God ‘n tyd bepaal.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css