Die Weg

 

Onthou! Sien God raak om die goeie te kan geniet

Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is” - Prediker 2:24.

DAAR IS MEER AAN DIE LEWE! Daar is dieper waardes. Dit is die woorde waarmee 16 Januarie se boodskap afgesluit is. Prediker het gekyk of die plesier van drank en besittings blywende waarde het. Hy het gevind: Alles was ‘n gejaag na wind!

Wat bied meer waarde as besittings, sal baie mense vra? Geld bepaal tog so baie. Daarsonder kan ek nie eet nie, nie ‘n blyplek bekostig nie, het ek nie vervoer nie, kan ek nie eendag op pensioen gaan nie. Ek moet soms baie hard werk en fyn beplan. Prediker 2:12 e.v. vra vrae oor die sin van harde werk. Eerstens word ons herinner dat almal sterf, dwase en wyse mense. Harde werk red jou  nie van die dood nie, wysheid ook nie. Ons het ook geen beheer oor wat van ons besittings word wanneer ons sterf nie. ‘n Dwaas kan dit na jou dood oorneem (Pred 2:18)!

Die wysheid wat die Prediker onder die son, in hierdie wêreld, bekom het, was nie voldoende nie. Dit het hom morbied gemaak, hom laat voel asof alles tevergeefs is. Tog breek daar vir hom lig deur wanneer hy besef: Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie (2:24). Die goeie dinge van die lewe lê nie in mense se vermoëns nie. Ons weet dit ook. Jy het geen beheer oor jou gesondheid, oor ‘n ongeluk wat jou kan tref, oor die val van die ekonomie, of oor die bedrog van ‘n skelm nie (lees Lukas 12:13-21).

In wie se hande is my lewe dan? Waarna moet ek méér soek as net daardie kort tydjie van plesier, wat die vrug van harde werk en ontspanning kan bied? Ek moet God as die gewer van alles leer ken. Ek moet na wysheid wat van Bo kom soek. Daaruit leer ek: “... die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Joh 2:16-17). Ek leer ken ‘n ryker lewe, die ewige lewe. Ons leer ken Hom wat God se wysheid kom bekend maak het, Jesus Christus en sy koninkryk (Lukas 12:31). Hy vra van ons eerlikheid (soos van die Prediker): Dat ek nie deur menslike wysheid of harde werk ‘n blywende goeie lewe kan verseker nie. Prediker het reeds dofweg gesien: “Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap.” (Pred. 2:26)

Fokus jou lewe op hemelse skatte, eerder as op aardse besittings en plesier. Dit gee blydskap en het ewige waarde. Wie net vir hierdie lewe beplan, sonder geloof in God en sonder kennis van sy koninkryk, sal met ‘n hand vol niks gelaat word.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css