Die Weg

 

Is daar werklik niks nuuts nie?

Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie" - Prediker 1:9.

Dit is telkens die teleurstelling van ‘n nuwe jaar – dit word gou weer oud. Ons word gou weer gekonfronteer met dieselfde dinge as verlede jaar, en die jare tevore! En dit neig om ons moedeloos te maak.

Wanneer die Prediker na ‘n sin in die lewe soek, is dit een van sy gevolgtrekkings: Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie! Die refrein dwarsdeur sy wysheidsboek is: Alles kom tot niks! Aan die einde van baie swoeg en sweet staan jy baie keer slegs met ‘n handvol wind.

Wanneer beleef ons dat daar niks nuuts is nie?

Wanneer ons soos die Prediker net IN HIERDIE WÊRELD na iets nuuts soek, sal alles lyk of dit reeds daar was. So soek hy in die eerste hoofstuk (lees Prediker 1:1-11) na nuwe dinge in die natuur, die geskiedenis en die mens se persoonlike lewe. Die son kom op en gaan onder, altyd dieselfde. Die winde waai jaar in en uit, altyd dieselfde. Die riviere loop aanhoudend, maar die see word nie vol nie. Ook in die geskiedenis vind hy niks nuuts nie: wat nou gebeur, was alreeds vroeër daar. Vergelyk jy dit met die mens se harde werk en baie gesprekke om nuwe dinge te beplan, is dit maar dieselfde – niks nuuts nie. Baie woorde, baie kyk en baie luister bring niks wat nuut is nie.

So sal ons ook in 2013 in ‘n sinlose maalkolk beland wanneer ons net “in hierdie wêreld” na iets nuuts soek. Dit sal lyk of die seisoene hulleself net herhaal. Die somer is warm en droog totdat dit reën. Daarna is dit vir ‘n tyd mooi groen in die veld, maar alles verdroog weer later. Niks nuuts nie!

Koerantberigte herhaal hulleself: individue en maatskappye, regerings en landsburgers, beplan en bereken. Sommige pogings slaag, ander misluk – elke jaar dieselfde. Misdaad word bekamp, maar daar is altyd weer diefstal en moord.

Hierdie nuwe jaar gaan skynbaar ook niks nuuts bring nie – solank as wat jy net in hierdie wêreld daarna soek.

Daar is tog iets nuuts om na uit te sien.

Die Prediker se bevinding dat alles tot niks kom, leer ons iets baie belangriks: Moenie net in die wêreld, sonder God wat die wêreld gemaak het, soek na iets nuuts nie. Hy het tog gesê: “Kyk, ek maak alles nuut” (Open 21:5).

Hy maak geestelik nuut – daar kan groei wees in ons insig oor wie God is en hoe Hy ons lei.

Hy maak sy skepping nuut – in elke kind se geboorte, saadjie wat ontkiem, reëndruppel wat lewe gee, is nuwe skeppingswerke sigbaar.

Hy stuur alles in die geskiedenis na ‘n vasgestelde doel. Al lyk alles nou donker, weet ons dat Jesus Christus gekom het, nou regeer en weer sal kom. Saam met Hom sien ons uit na die nuwe jaar. Sy koninkryk is aan die kom en sal in heerlikheid deurbreek.

Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie”. (Jesaja 65:17).

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css