Die Weg

 

Die toekoms is in God se hande

"Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie." - Matteus 6:34 NAV.

Die Here Jesus sê ons moet wegbly van ons weetgierigheid oor wat in die toekoms gaan gebeur. Ons word natuurlik op allerlei maniere verplig om vir môre te sorg en voorsiening te maak vir al die moeilikhede wat op ons weg mag kom. Maar van môre mag ons nie weet nie. Ons mag nie probeer om met allerlei slim metodes die geheim wat die toekoms inhou te wete te probeer kom nie. Die dag van môre met al sy onbekende moontlikhede moet by môre bly. Ons mag nie die grens tussen die hede en die toekoms uitwis nie. God het dit so beskik.

Dit bly 'n ope vraag of ons môre wel kan ken. Miskien wel, dan net ‘n klein bietjie. Die parapsigologie ontdek vreemde dinge. Die Bybel ontken dit ook nie, maar die Bybel verbied dit. "Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie" (Hand 1:7 OAV). Dit is nie jou saak nie. Jy hoef dit nie te weet nie. Daarom bly weg daarvan en los dit uit!

Die wegbly daarvan beteken seker ook dat ons ons nie daaroor moet bekommer en besorg maak nie. Vandag bied al genoeg rede tot kommer. Elke dag het genoeg moeilikhede van sy eie (“sy eie kwaad” OAV). Môre se kommer moet oorstaan tot môre. Dit is vroeg genoeg. Moenie vandag meer op jou skouers neem as wat God vandag vir jou gegee het om te dra nie. Môre is in goeie hande; dit is in God se hande. Dit is nie die hande van 'n bose noodlot of 'n dwase toeval nie. Dit is die hande van ons getroue God en Vader.

So word môre 'n saak van geloof en vaste vertroue, d.w.s. vertroue op God. Ons vertrou God nie “net so ver as ons Hom kan sien” nie. Ons vertrou God ook in die toekoms.

Wie, ondanks al die vermaninge, nog so dom wil wees om vandag al te wil weet van môre, word juis deur môre verpletter. Die las is te swaar om te dra. Daarvoor is jou skouers te klein. Dit is nie daarvoor gemaak nie. Dit is meer as wat die mens kan dra. Dan sal jy nie kan leef en kan werk nie. Daarom: laat staan dit! Laat dit vir jou genoeg wees dat die Vader dit weet. Hy staan vandag by jou lewenstrein en Hy sê: “Kinders, klim maar in en wees rustig. Ek het vir alles gesorg”.

Ds Gabe van Duinen. (De Stem Achter U)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css