Die Weg

 

Sodat die boom nie omwaai nie

"Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap" - Hebreërs 6:1 NAV.

Die buurman se boom het omgewaai, nieteenstaande die feit dat hierdie soort boom in die vrye veld sterk storms sou kon weerstaan. 

Plant ‘n mens ‘n boom en jy gooi dit gereeld nat, groei dit aanvanklik mooi. Wat jy egter nie opmerk nie, is dat die boom net sywortels maak wat baie naby aan die grondoppervlakte bly. Die boom ontwikkel nie wortels wat diep in die aarde indring om na vog te soek en dit te veranker nie. Wanneer daar dan ‘n droogte kom en die boom word nie natgegooi nie, kan die boom verwelk. Erger nog, as daar ‘n groot storm kom waai so ‘n boom maklik om. Die boom hierbo genoem het geen diep wortels gehad waarmee hy hom kon veranker nie.

Ons kan hiermee ‘n vergelyking tref met die eerste beginsels waarvan Hebreërs 5:12 praat: "Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer" (OAV). Hebreërs 6:1 praat van Christene wat stilstaan by die “eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word”. In Efesiërs 4:13 praat Paulus van ‘n volwassenheid wat bereik moet word. Ons sien dit ook in Jakobus 1:4 waar die apostel sê dat die mens tot volle “geestelike rypheid” moet kom (NAV). Dus: ons gaan wel kerk toe (miskien), ons luister na die Woord en lees die Bybel. Maar die meeste van die tyd is dit alles net oppervlakkig.  Die diepte van ons geloof, waarmee ons ander kan leer, ontbreek by ons.

Wanneer word ‘n mens dan geestelik volwasse of geestelik ryp?

Soos die water die lewensap vir die boompie verskaf, so verskaf geloof die geestelike krag vir die mens. Wanneer alles goed gaan met ons is dit soos die boompie wat gereeld natgegooi word. Oënskynlik floreer ons geloof, want ons het alles wat ons nodig het.  Maar as die teenslae en beproewings oor ons lewe kom, sal ons kan standhou of sal ons “ontwortel” word? Die beproewings wat ons in die lewe ondervind is dus nodig, want dit oefen ons geloof. Dit help ons om ons geloofswortels diep in God te veranker. Dit is eers wanneer ons deur die teëspoed, eensaamheid en beproewings van die lewe aan God bly vashou, dat ons geloof tot volwassenheid gekom het. 

Wanneer dit sleg gaan met jou, dan is dit die tyd om jou geloofsekerheid te ontwikkel. Dan moet jy volhou om op God te vertrou, want die teëspoed toets jou geloof. "Want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming" (Jakobus 1:4 NAV).

As jy vasstaan in die geloof, veranker in God self, sal jy geestelike volwassenheid bereik. Dan word jy hegter aan God gebind en kan die lewensstorms maar om jou woed. Jy sal dan nogtans staande kan bly en vrugte kan dra, selfs in moeilike omstandighede, en so vir ander tot seën wees.

-dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css