Die Weg

 

Waarheid en sin van die lewe

"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees" - Johannes 8:36.
"Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas." Lukas 15:15 NAV

Behalwe vir die voor-die-hand-liggende verklaring van die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15), skuil daar ook 'n dieper waarheid agter hierdie gelykenis. Dit handel naamlik oor die sin van die lewe. Ons kry hier die beeld van ‘n jong man wat in sy storm-en-drang jare sy vaderhuis verlaat om homself te probeer vind. Die gebondenheid het hom ingeperk en hy kon homself nie uitleef nie.

Hy vaar dus die wye wêreld in om homself te vind en die vryheid te leer ken. ‘n Vryheid weg van alle verpligtinge van die vaderhuis. Hoe bekend klink dit nie vir ons nie! Maar nou sien ons die weg van die jong man deur die wêreld.  Uiteindelik beland hy op die punt waar hy sy tyd tussen die varke deurbring en uit varktrôe eet - die simbool van onreinheid en veragting. Sy idealistiese sug na vryheid het hom op ‘n plek laat beland waar hy nie wou wees nie. Met sy uitvlug in die wêreld word hy uiteindelik gebind deur sy omstandighede wat verskrikliker was as die gewaande gebondenheid wat hy eenmaal in die vaderhuis beleef het.

Wat het dan in werklikheid gebeur? Net dat hy homself, in teenstelling met wat hy vir sy lewe beoog het, dit juis nie gevind het nie, maar verloor het.  Was dit wat hy daar in die vreemde gevind het, nou ‘n beter “ek”? Wat hy wel ontwikkel het was die donker kant van sy lewe: sy eersug, sy uitspattigheid, sy wellus, ens.  Die teenstrydigheid is dat hy in sy ongebonde vryheid die slaaf geword het van die donker kant van sy persoonlikheid en geëindig het as ‘n nietige kneg van die wêreld.

Dan breek die lig uiteindelik tot hom deur. In sy knegskap verlang hy na die vryheid van die vaderhuis! Hy kom tot die besef dat wat hy aanvanklik as ingeperktheid beleef het, werklike vryheid was, en dat vryheid nie blote ongebondenheid is nie. Dat daar tog ‘n seker soort van gebondenheid in vryheid is. Te meer nog, dat vryheid beteken om in harmonie met jouself en die oorsprong van jou lewe te leef.

Die vryheid om myself te wees ontvang ek alleen by God deur Jesus Christus. "Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie" (Gal 5:1). "En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak" (Joh 8:32). Hierdie Waarheid is dat jy jouself net kan vind wanneer jy God gevind het.  Wie in die vryheid van die Vaderhuis leef en asemhaal  en sy vrede dáár vind, vind ook die vryheid in homself. Daar is geen angs vir die toekoms nie. Daar is Iemand na wie toe hy mag kom net soos hy is, sonder pretensies.

As ons hierdie Waarheid egter nie vind nie, sal ons lewe onvervuld bly. Ons mag dan in die wêreld tydelik iets groots word: dit mag ons dalk nie ontbreek aan aardse goed nie en mense mag hul hoed hoog vir ons lig, maar ons het die sin van die lewe misgeloop: die harmonie tussen God en ons - Sy kinders.

Daardie oomblik toe die vader sy seun in sy arms toevou, het die seun homself weer gevind. So ook vir ons: "Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook" - (1 Joh 3:1).

-dw –
(met aanhalings uit: Der Christ im Erstfall deur Helmut Thielicke)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css