Die Weg

 

Bruilof (1) - Feesgangers in 'n feeslose wêreld

“Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.” Matteus 25:1 OAV.

Die koninkryk van die hemele word in hierdie gelykenis vergelyk met 'n vrolike bruilofstoet wat in die donker van die aand by die lig van lampe, (en sekerlik met blye feesliedere), die bruidegom inwag.

Hierdie bruilofstoet bestaan uit tien maagde. Die getal tien in die Skrif is die getal wat aardse voltalligheid aandui. Ons het hier te doen met die sigbare gestalte van die Christelike Kerk. Gemeet aan menslike maatstawwe hoort hierdie tien almal daarby. Hulle loop almal saam in die groot feesstoet van die Kerk op pad deur hierdie feeslose wêreld, die bruidegom tegemoet.

Deur hierdie feeslose wêreld?

Ja, so het hierdie wêreld langsamerhand geword. Die fees van hierdie aarde is verby. Die weelderige feessale waarin die kinders van hierdie wêreld hul swelgpartytjies gehou het, lê in puin, die volgelaaide lewenstafels het omgeval. In die bedreiging van menslike dwaasheid staan die “mené, mené”  (Dan 5:25 OAV) onheilspellend teen die muur geskryf.

Deur hierdie wêreld waar die fees opgehou het, trek die Kerk van Christus op na die fees. Ons is feesgangers in 'n feeslose wêreld. Ons is “geroep tot sy ewige heerlikheid” (1 Pet 5:10 OAV). Die wêreld gil van angs: waar gaan dit heen ? Nou, dit weet ons. Ons weet dit heel seker en heel presies. Maar ons gaan bruilof toe; ons gaan die bruidegom tegemoet. 'n Erfdeel van hemelse heerlikheid is ons belowe.

Maar - nou moet die Kerk ook 'n bietjie feesteliker daar uitsien. Dit lyk dikwels meer na 'n begrafnisstoet as na 'n feesstoet. Wie gaan nou kop op die bors en met 'n treurige gesig bruilof toe? Nou toe dan, volk van die toekoms, lig jul koppe op, neem jul lampe en gaan buitentoe, die bruidegom tegemoet!

Ds Gabe van Duinen (De Stem Achter U)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css