Die Weg

 

Dankbaar in alle omstandighede

"Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag"  - 1 Tes. 5:18 NAV.

Dit waarvoor ons dankbaar kan wees, is eindeloos groot. Ons kan ons HERE dank vir die skepping, vir die suurstof, die son, die seisoene, vir die berge, die see, die diere en die planteryk. Alles wat ons kan geniet, en dan ook vir ons geloof: "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God" (Ef 2:8). As jy egte geloof besit, is hierdie geloof die werk van God in jou hart. Dank God vir hierdie geloof, want jy het jouself nie ‘n Christen gemaak nie, maar die almagtige HERE het jou hart verander en vir jou uit genade die lewegewende geloof geskenk!

Maar die Bybel kla: "omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie." (Rom 1:21). God moet ons van so ‘n skreiende ondankbaarheid bewaar: om alles te ontvang, dit te gebruik en tog so te doen asof alles in die wêreld vanselfsprekend is en asof ons nie alle dinge vanaf die Skepper ontvang nie.

Dit is maklik om dankbaar te wees wanneer dit goed gaan met ons. Die windmeul draai maklik as daar ‘n goeie wind waai. Elkeen kan die HERE vrolik prys wanneer daar genoeg geld in sy bankrekening is en sy huis met uiterlike seën oorvloei word. Maar om God in moeilike tye te loof, Hom by wind en weer te dank, Hom ook te prys in leed en smart, dit is ‘n ander saak. Om in alle omstandighede dankbaar te wees beteken dat ons onafhanklik van ons lewensomstandighede, met dankbaarheid vervul sal wees.  En dit is die boodskap wat die HERE aan ons rig.

Dank God daarvoor dat jy dalk nie in die hospitaal is nie, en wanneer jy jou in die hospitaal bevind, dank God dat daar wel hospitale is. As jy dan daar is, dank jou hemelse Vader vir die geduld wat jy kan aanleer, en vir die troos wat jy deur jou geloof aan jou medepasiënte kan bring. As iemand na aan jou in ‘n ongeluk was, dank God as hy nie omgekom het nie, en as hy omgekom het, dank God dat hy so lank deel van jou lewe kon wees. "Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is" (Rom 8:28).

‘n Mens het die hele dag grond tot dankbaarheid teenoor God. In die môre as jy wakker word, verheug jy jou oor ‘n koppie koffie. In die aand as jy gaan slaap mag ons sê: “Dankie hemelse Vader, dat ek ‘n sagte kussing het”.

Ons verheug ons in ons jeug, ons verheug ons in ons middeljare - oor ons familie, ons werk en ons inkomste. As ons oud word wil ons God prys vir die pensioen, ook wanneer dit langsaam minder word.  En dan kan ons ons verheug oor die hemel. Laat ons oor alles sê: "Die HERE het gegee en die HERE het geneem. Prys die Naam van die HERE" (Job 1:21).

(Uit:  Ds Wolfgang Wegert:  Dank – immer und für alles)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css