Die Weg

 

Wie stuur jou skip?

"Toe raadpleeg Dawid die HERE" - 2 Samuel 5:23.

Dawid vra hier na die wil van die HERE, dit is nadat hy reeds die Filistyne kort gelede by Baäl-Pérasim verslaan het. Dáár het hy die Filistyne, wat in groot getalle teen hom opgetrek het, met die hulp van God op die vlug gejaag. Maar let nou op, dat wanneer die Filistyne ‘n tweede keer teen Dawid optrek, Dawid hulle nie aanval voordat hy nie weer die HERE geraadpleeg het nie.  Na sy eerste oorwinning kon hy, soos baie ander in soortgelyke gevalle, gesê het: “Ek het eenkeer die oorwinning behaal, ek sal dit weer regkry”. Maar nie Dawid nie. Hy het een veldslag deur die krag van die HERE gewen. Hy sou nie ‘n volgende onderneem sonder dat hy nie eers weer na die wil van God gevra het nie. Hy het gevra: “Sal ek teen hulle optrek?”, en hy het gewag totdat God sy goedkeuring gegee het.

Leer van Dawid en neem geen stap sonder God nie. As jy wil weet wat die pad is waarop jy behoort te gaan, laat God dan jou kompas wees. As jy jou skip in die donker deur die golwe moet stuur, plaas die roer in die hand van die Almagtige. Ons sal baie rotse vermy en die sandbanke mis as ons die bevel aan ons Vader oorlaat. Daar is ‘n ou spreuk wat lui: “So seker as wat ‘n Christen self die kerfwerk doen, so seker sal hy sy eie vingers sny”. Dit is ‘n groot waarheid. ‘n Geestelike uit die outyd het gesê: “Hy wat voor die wolk van God se voorsienigheid uitloop, gaan op ‘n gekketog”, en so is dit. Ons moet ag slaan op God se voorsienigheid wat ons lei, en as die voorsienigheid uitbly, wag totdat dit kom. Hy wat voor die voorsienigheid uitloop, sal gou weer moet terughardloop. God se belofte aan Sy kinders is: "Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou" (Ps 32:8 NAV). Laat ons dan met al ons verwardheid na Hom toe gaan, en vra: “HERE, wat wil U hê moet ek doen?

Moenie jou nuwe dag begin sonder om na die wil van die HERE te vra nie.

CH Spurgeon

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css