Die Weg

 

Op reis na ons eindbestemming

In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei”  Johannes 14:2.

Die tyd is naby wanneer die boodskap vir elkeen van ons sal kom: “Staan op en gaan weg uit die huis waar jy gewoon het, vanuit die stad waar jy jou sake gedoen het, van jou familie, van jou vriende. Staan op en neem die laaste tog”. 

Wat weet ons van hierdie tog? Wat weet ons van die plek waarheen ons moet gaan? Iets daarvan is deur die Heilige Gees aan ons bekend gemaak. Maar wat weet ons werklik van die toekomstige ryk? Ons weet dat daar ‘n swart en stormagtige rivier is wat ons moet kruis – “die dood”. Op God se bevel sal ons dit oorkruis, en Hy beloof ons dat Hy dan by ons sal wees. En, na die dood, wat kom daar dan? Sal ons verwonderd staan oor wat ons sien? Watter heerlikheid sal voor ons oopvou? Daar is geen reisiger wat daar was wat vir ons kan vertel nie.

Ons weet egter genoeg van die hemelse koninkryk om God se bevel met vreugde en blydskap te verwelkom. Die doodsreis mag donker wees, maar ons gaan vreesloos daarop voort, met die wete dat God met ons sal wees wanneer ons die doodsvallei betree. Daarom hoef ons niks te vrees nie. Ons sal afskeid neem van alles en almal wat ons hier liefgehad het, maar ons sal na ons Vader se huis gaan - daar waar Jesus is - na die Koninklike Stad wat "fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is" (Heb 11:10). Dit sal ons laaste reis wees, om met Hom te leef vir wie ons liefhet, te midde van Sy mense, in die teenwoordigheid van God.

Christen, dink na oor die hemel. Dit sal jou help om met blymoedigheid op hierdie moeilike weg voort te gaan. Hierdie tranedal is ‘n enkele stap na ‘n beter wêreld. Hierdie wêreld van ellende is ‘n deurgang na die wêreld van saligheid.

 C H Spurgeon

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css