Die Weg

 

Angs

Vir die musiekleier; op die wysie van: ‘Die Duif van die ver Terebinte’. Van Dawid. ‘n Gedig, toe die Filistyne hom gevang het in Gat. Wees my genadig, o God, want mense vertrap my; hy wat my beveg, verdruk my die hele dag. My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed. Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou" Psalm 56:1-3 OAV.

Dawid was ‘n moedige en onverskrokke mens. Dink maar terug aan hoe hy as skaapwagter ’n leeu en ‘n beer doodgemaak het. Van angs was daar by hom geen sprake nie. Waar hy teenoor Goliat gestaan het, het hy geen vrees getoon nie. Hy het immers op God vertrou. Die begeesterde mense kon later uitroep: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende” (1 Sam 18:7).

Maar dan word dit tog anders. Wat met Dawid gebeur het, gebeur soms ook met ons. Ons mag dalk baie suksesvol voorkom, is hoogaangestel en/of die lieflinge van ons gemeenskap. Maar ook dít kan vinnig verander. En soms is dit nodig, want dit is nie gesond as die wilde lote te hoog opskiet nie. Daarom snoei God die lote wat te hoog groei. Hy soek vrugte aan ons en nie uitermate veel hout nie.

Koning Saul word jaloers op Dawid en word sy grootste teenstander, so erg dat Dawid moes skree: “want mense vertrap my; hy wat my beveg, verdruk my die hele dag. My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed”. Ja, Saul en sy dienaars soek Dawid se lewe. En nou kom die angs en die paniek.

Dit word nog erger vir Dawid. In sy eie land kon hy nie meer bly nie, daarom vlug hy na die land van die Filistyne. Daar word hy gevang en na koning Agis van Gat gebring. Dawid het bang geword: "En Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bevrees geword vir Agis, die koning van Gat" (1 Sam 21:12 OAV). 

Dawid vlug van angs na angs. Hy was die man na God se hart (Hand 13:22) en tog het hy uiterste angs beleef. Net so leef ons ook soms in angs en voel dat ons in ‘n wêreld leef waaroor  ons nie beheer het nie. Ook ons weet nie wat môre sal gebeur nie. Dit maak ons bang.

Daar is egter ‘n verskil tussen ons en die ongelowiges. Ons het die HERE waarop ons kan vertrou. Ons vergeet dalk van Hom wanneer ons paniekbevange raak en dan verloor ons ons houvas. Ons lees van Dawid as hy vol kommer uitroep: "Wees my genadig , o God.... My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed". Maar dan herwin hy sy houvas en hy volg dit op met: "Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou" (vers 3). Dit is asof Dawid wil sê: Ek kan nie die angs vermy nie. Kommer en nood is daar altyd, maar ek sal my nie daaraan oorgee nie, want ek het ‘n antwoord op my vrees, en dit is: "Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou". Nie selfvertroue nie, maar Godsvertroue is die antwoord.

- dw-
(Verwerk uit: O Gott, sei mir gnädig van ds Wolfgang Wegert)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css