Die Weg

 

Alle gesag is slegs van God afkomstig

" Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God" Romeine 13:1.

Bileam het ook met hierdie uitspraak gekom: "Wie kan in die lewe bly as God dit nie so bepaal nie?"’ Numeri 24:23.

Elke mense se lewe, sy geboortedag en sterfdag word deur God bepaal.  Hy bepaal ook wie regeer en wie mag oor ander sal hê. Romeine 13:1 stel dit duidelik dat alle gesag slegs van God afkomstig is.

Uit die geskiedenis van Israel is dit duidelik dat God die toekoms van volke bestuur. Deur sy beskikking kom volke op en gaan hulle onder. Hy gebruik dan ook ander volke om sy volk se oë oop te maak en hulle tot inkeer te bring.

In Numeri 24 sien ons hoe Bileam God se oordeel uitspreek oor goddelose volke en hulle konings. As ons dan deur die geskiedenisboeke blaai, vind ons dat wat hy geprofeteer het, inderdaad so uitgekom het. Sommige van die volke het eers heelwat later beleef wat Bileam hier uitgespreek het.

So moet ons ook vandag bly onthou dat almal: gelowiges, ongelowiges, volke en regeerders, onder God se gesag staan en onder Jesus se Koningskap. Almal moet uiteindelik aan God verantwoording doen. "Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie" 1 Kor 10:12. Dit geld, soos vir enige mens, ook vir die regerings van elke dag.

Christus het gekom as Verlosser vir die wêreld, maar die wêreld erken Hom nie. Wie Hom as Verlosser erken en dien, hulle sal die voordeel van sy verlossing ervaar. Maar dit staan ook vas: wie Hom as Verlosser verwerp, staan steeds onder die oordeel van God. Die hel en ewige dood is net so 'n werklikheid as die hemel en ewige lewe.

Daarom mag ons nie dink ons lewe nou in ander tye waarin ons God nie so letterlik hoef op te neem nie. God se oordeel en straf rus op elkeen wat sy liefde vertrap wat Hy in Christus aan ons bewys het.

Bid dat die Heilige Gees jou in jou geloof in God Drie-Enig sal bly versterk.

Ds P Fanoy

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css