Die Weg

 

Ester: My verleentheid - God se geleentheid

"... en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur" Ester 9:21-22 NAV.

Die Purimfees is tot vandag toe 'n jaarlikse fees wat deur die Jode gevier word. Dit is die fees wat die besondere verlossing van die Jode gedurende die tyd van die ballingskap herdenk. Die oorspronklike fees wys terug na Haman wat die lot gewerp het om op 'n dag te besluit waarop alle Jode doodgemaak sou word. Die woord “Pur” beteken om die lot te werp. In plaas daarvan dat die Jode doodgemaak is op die dag wat Hamman bepaal het, het dit die dag geword wat die vyande van die Jode doodgemaak is.

Volgens Ester 9 sou die Purimfees in die maand Adar plaasvind. Dit word vir twee dae (op 14 en 15 Adar) gevier, maar die hele maand word as 'n tyd van vreugde herdenk. Die maand Adar val ongeveer in Maart van ons kalenderjaar.

Lees gerus watter emosies in Ester 9:17 tot 19 verwoord word. Dit is die tyd van vreugde en feesviering. Dit is die tyd van welwillendheid waar Jode vir mekaar geskenke gee in die vorm van eetgoed.

Wanneer ons terugkyk na Ester se lewe, dan staan dit uit dat Ester se verleentheid God se geleentheid geword het.  Ester moes leer om verby haarself te kyk en die belange van haar mense wat in nood was, raak te sien. Sy moes leer om die Here te vertrou, ten spyte van 'n skrikwekkende werklikheid en lewensgevaar.

As jy aan jou verlossing in Jesus Christus dink, is Hy groter as jou realiteit? Is Sy mag, krag en redding groter as die slegte dinge wat rondom jou, én met jou gebeur?

Mag die Heilige Gees jou versterk en vertroos om in alle tye en omstandighede in jou lewe, jou oog op Jesus Christus gevestig te hou.

Ds Paul van den Berg

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css