Die Weg

 

Die aard van Christenwees

"God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan" 1 Korintiërs 12:24-27.

Die opdrag om mekaar lief te hê kom in verskillende vorms meer as 100 keer in die Nuwe Testament voor. Die Here Jesus het dit as gebod gegee: "Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê" (Joh 13:34) en verder  "Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel" (Joh 15:12-14 OAV). Liefde is daarom die wese van die Christelike godsdiens.

Paulus skryf oor die wonder van die onderlinge liefde tussen die gelowiges in sy inleidings tot die briewe aan die Efesiërs, die Kolossense en die Tessalonisense. In die brief aan die Tessalonisense sê hy verder: "Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê" (1Tes 4.9). Ons vind ook baie oor die liefde in sy briewe aan die Romeine en aan die Korintiërs. Waar hy ookal oor die liefde skryf, bring hy dit altyd in verband met God. Dit is nie emosionele, sentimentele, gevoelsliefde nie, maar die liefde wat van God kom. Dit is die liefde van die Gees wat in dade omgesit word. Dit is liefde wat alle mense insluit, sonder “aanneming van die persoon”  (Ef 6:9 OAV).  Dit is ‘n liefde met begrip en fyn aanvoeling vir mekaar (Fil 1:9 NAV). Dit gee erkenning aan God en is gebaseer op die waarheid van sy Woord.

Hierdie (goddelike) liefde kyk verby menslike swakhede. Dit is geduldig, vriendelik, nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie, verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom in die waarheid (1 Kor 13). 

Teenoor alles wat hierbo gesê is staan ons eie menslike swakheid. Paulus skryf daarvan in Romeine 7:21 “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.” Maar dan moet ons terugkyk na gister se boodskap: "Om te (wil) verander", en moet ons nooit vergeet nie dat ons almal afsonderlik lede is van die liggaam van Christus. Al die lede van die liggaam het mekaar nodig. Wat een lid raak, raak ook die ander.

Christenwees gaan nie oor individualiteit nie, maar oor die onderlinge gemeenskap met mekaar (koinonia). Ons het dan ook ‘n verantwoordelikheid om na mekaar om te sien en daardeur te verseker dat hierdie liggaam nie benadeel word of gebrek ly nie. Daarom moet ons ook mekaar se belange op die hart dra, en vir mekaar bid. Wanneer ons vir iemand bid kan ons nie langer in onvrede met daardie persoon lewe nie, en sal ons ook nie ag gee op sy of haar swakhede nie.

"Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus" (Gal 6:2 NAV).

Liefde is die suurstof van die Christelike gemeenskap!

-dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css