Die Weg

 

Ons Anker wanneer storms dreig

"En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is." Hebreërs 6:17 -19 NAV

Ons hoop en heil word in Hebreërs met ‘n anker vergelyk en is verseker omdat dit God se belofte is, en omdat Hy sy besluit met ‘n eed gewaarborg het.

Elke skip het ‘n anker. Dit word nie altyd gebruik nie, maar wanneer storms loei en die golwe opslaan sodat die skip in gevaar kom, word dit sonder 'n anker ‘n speelbal van die wind en die geweld van die water. So was dit ook in die tyd van die apostels as die ou seilskepe op die Middellandse See onderweg was. Gelukkig vir die skipper wat 'n anker byderhand gehad het om dit te kon uitgooi! Die anker het verhoed dat die skip wegdryf en die skip uiteindelik skipbreuk sou ly.

Wanneer daar goeie tye heers en God se kinders gesond is, ‘n voldoende inkomste het en dit goed gaan met die familie, dan het ons geen probleem om te glo nie. In sulke tye dink ons dalk nie aan ‘n anker nie. Maar een of ander tyd breek die lewensstorms oor ons los. Ons word siek, daar is ‘n ongeluk in die familie, die vrou of man wil skei, ‘n kind sterf, of die besigheid speel bankrot. Wie dan geen anker het nie, dryf weg. Dikwels laat Christene hulle as gevolg van hul teleurstelling en vertwyfeling deur die sonde wegvoer en maak die skade nog net groter. So het sommiges, soos Paulus skryf “aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim 1:19)  - omdat hulle geen anker gehad het nie. 

Christene beleef net soos ongelowige mense storms in hulle lewens. Maar in vergelyking met die ongelowiges het hulle nog steeds vrede en hulle gee nie moed op nie, want hulle het ‘n verborge vashouplek. Daarvan spreek die skrywer van die Hebreërbrief: "Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek" (Heb 6:20).  Dit vat ons anker met een woord saam: Jesus. Die skrywer gebruik die beeld van die tempel en die voorhangsel. Daar in die Allerheiligste van God is Jesus en daar is ons veranker. Ons vashouplek is nie op die aarde, nie in ons bankbalans, nie in goeie gesondheid, nie in ‘n lang lewe of in ‘n gelukkige huwelik nie. Nee, ons vashouplek is die Anker wat in die hemel vasgehaak is.

Ook die brief aan die Hebreërs sê vir ons dat ons ‘n hoop het wat vir ons ‘n sekere en vaste anker is, sodat ons nie skipbreuk moet ly nie. En hierdie sekerheid is in die lewende God, wat aan sy kinders ‘n onherroepelike heilsbelofte gemaak het, wat Hy ook nog met ‘n eed bekragtig het soos ons hierbo gesien het. Gryp daarom hierdie sekere en vaste anker van hoop aan. Jesus het met Sy bloed beseël wat God in sy Woord belowe het. "Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie" (Luk 21:33).

 Ds Wolfgang Wegert
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css