Die Weg

 

Bystand in ons swakhede

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” Romeine 8:26-28.

Vanweë die sondeval is alles en almal hier op aarde aan verganklikheid onderworpe. Paulus sê in Romeine 8:18-23 dat nie alleen net die skepping nie, maar selfs ook ons as gelowiges dikwels sug en hard na God roep om ons uit hierdie lyding te bevry. Christene word dus nie die swaarkry en ontberings hier op aarde gespaar nie.

Maar Paulus sê wel in Romeine 8 dat die Gees ons in hierdie aardse stryd bystaan en ondersteun.  Hy sê in vers 26 dat ons swaarkry en ons swakheid daarin bestaan dat ons nie aldag weet wat en hoe ons behoort te bid nie. Partykeer voel dit mos vir jou asof jou gebede teen die dak vasslaan en onbeantwoord op jou terugval. Of dat jy iets vir God probeer sê, maar nie die woorde kan vind om dit aan Hom oor te dra nie. Of dae lank biddeloos ronddobber terwyl jou hart eintlik brand om met iemand of met God hieroor te praat.

Die Gees ken egter ons diepste gedagtes en ook ons swakhede. Hy neem daardie hartsgevoelens wat ons nie aldag in woorde kan uitdruk nie, of waaroor ons nie eintlik met andere kan praat nie, na God se troon toe. En God weet dat sy Gees volgens sy wil in al sy kinders se lewens werk. En as die Heilige Gees pleit vir elke gelowige wat hier op aarde swaarkry en sug, reageer God volgens vers 28 deur dan alles in hul lewens ten goede te laat meewerk.

Romeine 8 laat mens se verstand eintlik duisel. Om te dink dat God so baie in ons belangstel dat sy Gees ons selfs in ons slegte dae bystaan deur vir Hom van ons swaarkry, biddeloosheid en swakhede te gaan vertel. Om te dink dat God ons in die proses so jammer kry dat Hy iets aan ons omstandighede doen, naamlik om daar en dan ’n hemelse plan in werking te stel om ons nog meer bewus van sy teenwoordigheid te maak. Dan werk Hy boonop nog sy wil in ons lewens uit.

Petrus het ook hierdie groot werking van God in sy lydende kinders se lewens verstaan. Daarom kan hy in 1 Petrus 1:5-9 aan sy lesers sê dat hulle hul eintlik moet verheug oor swaarkry en lyding, want dit is geleenthede waardeur God hulle oë nog meer vir sy genade en liefde wil oopmaak en waartydens Hy al die sondige onsuiwerhede uit hulle lewens wil verwyder sodat die egtheid van hulle geloof ’n slag duidelik na vore kan tree.

Sommige gelowiges dink dat hulle swaarkry op straf van God se kant af dui. Andere wil weer gedurig probeer verstaan hoekom sekere dinge juis oor hulle lewenspad kom. Nog Paulus nog Petrus sê egter dat swaarkry deel van God se straf in gelowiges se lewens is.  Al wat hulle wil hê dat gelowiges moet snap, is dat swaarkry ’n geleentheid vir besondere geestelike verdieping en groei is en dat God sy kinders nie in sulke tye alleen laat nie, maar dat sy Gees juis dan vir hulle met onuitspreeklike sugte intree. God reageer hierop deur sy kinders se  oë te open vir sy magtige werkinge. Deur watter bril kyk jy na jou swaarkry?

Ds Hentie Krüger (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css