Die Weg

 

Die duisternis kan ons nie oorweldig nie

"En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos"  Johannes 3:19 OAV.

Jesus Christus IS die Woord van God.  Alles het deur Hom ontstaan en deur Hom lewe ons. Paulus stel dit soos volg: ".. is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe" (1 Kor 8:6).

Johannes getuig soos volg van die Here Jesus Christus: "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie..... Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld - die wêreld het deur Hom tot stand gekom - en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word" (Joh 1:1-12 NAV).  Die Here Jesus getuig van homself: "Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee." (Joh 8:12).

Maar alhoewel die mense die lig ontvang het, het hulle nogtans die duisternis bo die lig verkies:  “en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh 3:19). Die uitdrukking “duisternis” staan vir onreinheid, sonde en ongeloof, en die wêreld sug daarna. Waar kom dit duideliker tot uitdrukking as in die media? Die televisie se programme wemel van egbreuk, ontug, korrupsie, moord en doodslag, asof dit wat op die nuus uitgebeeld word, nie alreeds genoeg is nie! Is dit normaal? Vra ‘n mens die filmmakers en die uitsaaiers daarna dan is die antwoord: “die mense vra daarna en ons saai net uit wat gewild is by die mense, dít waarvan hulle hou”. Die mens word bedwelm deur die sonde, alhoewel almal weet dat dit na die verderf lei.

Die ironie van die saak is dat dié mense wat in die duisternis van die sonde leef hulleself as “verlig” beskou. Die vraag is: deur watter lig word hulle verlig?  "God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie." (1 Joh 1:6-7 NAV).

Maar in hierdie wêreldse duisternis is daar altyd dié mense wat uit genade in die lig van God bly lewe. Dit is van hulle wat Paulus praat: "daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is" (Rom 11:5 NAV), en van wie Petrus sê: "Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig" (1 Petrus 2:9).

Dié wat in die duisternis wil bly wandel sal dit nooit kan begryp nie, maar ons is kinders van die Lig.

- dw-

(Na aanleiding van: Und die Finsternis hat's nich begriffen, ds. Wolfgang Wegert)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css