Die Weg

 

Die krag van die evangelie - Die sin van die lewe

Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” Romeine 1:6.

Ons lees hier dat die evangelie God se krag is tot redding. Redding beteken in die eerste plek die uitredding uit ons sondeskuld waardeur ons toegang tot die ewige lewe verkry. Maar die evangelie werk so sterk in ons totale menslike bestaan in, en bied so vele oplossings vir ons lewensprobleme, dat ‘n mens werklik kan sê: die evangelie is die krag vir ons daaglikse lewe.

Krag vir die sin van die lewe

Miljoene mense lewe vandag met groot innerlike troosteloosheid. Daar is vir hulle geen of min sin in die lewe. Dit is nie net mense sonder enige opvoeding wat hierdie innerlike leegheid ervaar nie.  Dit is nie net die armes en werkloses wat sonder enige  lewensvervulling leef nie, maar ook die rykes, welopgevoedes en beroemdes. Uiteindelik is, soos Prediker dit gestel het, alles tevergeefs onder die son.

Jy het eers honderd rand gekry en was bly daaroor. Dan wil jy ‘n duisend rand hê en verheug jou as jy dit ontvang het. Maar daarna wil jy tienduisend hê, dan ‘n honderdduisend en ten slotte ‘n miljoen. Dan wil jy graag ‘n miljardêr word. Maar gelukkig is jy nooit!  Hoe kom dit dan dat ook miljoenêrs, prominente persone en supersterre hulle hul tot alkohol en verdowingsmiddels wend, en selfs selfmoord pleeg? Hulle is met hul geld en hul roem ook nie gelukkiger as die bedelaars nie.

Die Bybel verklaar vir ons die oorsaak hiervan.  Die Bybel sê van God en die mense:  “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu (ewigheid) in hulle hart gelê” (Prediker 3:11). Die ewige God, na wie se ewebeeld ons geskape is,  die ewebeeld wat ons moet weerspieël, Hy het ons bestem om tot Sy eer en heerlikheid te leef en het die ewigheid in ons harte gelê. En elke mense voel dit aan. Daar is ‘n onbevredigbaarheid, ‘n honger in ons siele, wat nie met materiële dinge gestil kan word nie. Want die ewigheid is in die harte van elke mens, elkeen van ons besit ‘n onsterflike siel.

As ‘n mens ‘n arend van sy vryheid beroof en hom in ‘n kou sit sal hy rustig word as hy goed gevoer word. Maar diep in sy wese is daar ‘n verborge verlange wat hom treurig laat lyk, ook wanneer hy die beste versorging kry.  So verklaar ‘n mens die oeroue depressie waaronder meeste mense gebuk gaan.  Hulle kan nie werklik gelukkig wees nie, want God het die ewigheid in hulle harte gelê.

Hier kom die krag van die evangelie na vore. ‘n Gelowige mens het sy fokus nie meer hier op aarde, êrens in geld, besittings, vermaak, in seksualiteit of in sukses nie. Ook nie in ander mense, wat een of ander tyd moet sterwe nie, maar op sy anker in die hemel. Hy het sy ewige bestemming weer gevind. Sy hoop sterf selfs nie by die dood nie. Die begraafplaas is nie vir hom die laaste stasie nie, maar slegs die ingang tot die ewige heerlikheid van God, na die nuwe Jerusalem, na Jesus Christus, ons Verlosser.

Ons roeping lê in die ewige lewe. Dit is die krag wat in die evangelie lê. Dit maak die depressiewe en treurige, die mens sonder hoop, weer vrolik. Want sy hoop lê verby die dood. As ons hierdie evangelie werklik verstaan, sal ons self ondervind hoe sy krag ons hart weer vrolik maak, omdat ons hoop op die hemel en die ewigheid.

Paulus het gesê:   “ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees” (Fil 1:23). Hierdie uitsprake in die Skrif gee vir ons ‘n aanduiding watter krag daar in die evangelie lê. So ook die uitspraak van die apostel twee verse vroeër : “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Hierdie man vrees nie die dood nie, want hy weet dat dit die deurgang is tot die ewige lewe. Bid die Here Jesus dat jy ook hierdie krag van die evangelie sal ervaar.

Ds. Wolfgang Wegert – Arche Evang-reformierte Freikirche Hamburg

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css