Die Weg

 

Leef uit jou geloof

"Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het". Hebreërs 3:7-9 OAV

Die agtergrond tot hierdie verse vind ons in Eksodus 17:1-7.  Met hulle uittog uit Egipte het die volk Israel vele van God se wonders en tekens gesien. Vir 40 jaar het die HERE Homself as genadig en barmhartig bewys en het Hy sy liefde aan hulle betoon.

Maar Israel vertoon ‘n gees van verset en ongeloof waarin die HERE ‘n weersin het.  Ons sien dit by Massa en Meriba waar die volk teenoor Moses in opstand kom.   “Toe het Moses die HERE aangeroep en gesê: Wat moet ek met hierdie volk doen? Dit skeel maar min of hulle stenig my”. (Eks 17:4).  Die kinders van Israel het “die Here versoek deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?” (Eks 17:7). Kyk net die arrogansie, terwyl God  hulle daagliks versorg het.

Dit is vir die HERE belangrik dat ons hierdie gebeurtenis moet onthou. Daarom vind ons dit herhaaldelik terug in die Ou en die Nuwe Testament.  Die digter van Psalm 95 verheug hom in die HERE as hy sing: "Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. (Ps 95:7 OAV).  Maar direk daarna volg die klag van die HERE: “Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie;  waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het. Veertig jaar het Ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie; sodat Ek in my toorn gesweer het: Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!” (Ps 95:8-11)

Dit is skrikwekkend watter getuienis die HERE teen die volk Israel lewer. Vir 40 jaar het Hy ‘n afkeer gehad aan die getwis van Israel. Die volk het die HERE op die ergste moontlike maniere versoek (Sy geduld beproef - NAV). Dít, terwyl hulle die allerbeste rede gehad het om Hom van harte dankbaar te wees.

Die skrywer van die Hebreërbrief gebruik hierdie uitspraak van die HERE as waarskuwing aan die Hebreërs, dit is mense van Joodse afkoms, maar ook aan ons.  Die rede daarvoor is dat daar mense is wat hulself Christene noem, wat sê dat hulle die Here Jesus as persoonlike Here en Heiland aanvaar het, sonder dat dit uit hulle geloof sigbaar word. 

Die ongelowige Israeliete wat die stem van God op veelvoudige wyse gehoor het en tog nie geglo het nie, is ‘n waarskuwing aan mense van alle tye. Van die seshonderdduisend  (mans alleen) wat uit Egipte uitgetrek het, was daar net twee wat die beloofde land kon binnegaan, naamlik Josua en Kaleb. In Hebreërs 3 word dit ook as God se rus versinnebeeld – die beeld van ewige saligheid.  Die dooie liggame van die ander het in die woestyn agtergebly (Hebr 3,17) – ‘n beeld van die verlorenheid van die ongelowiges. Daarom sluit die hoofstuk af met die woorde:”Ons sien dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie ” (Hebr 3:19).

Almal het God se stem deur Moses en die Profete en laastens deur die Messias gehoor, maar  slegs enkeles het dit ernstig opgeneem. Oor hulle skryf Paulus waar hy Jesaja aanhaal:  “Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see, net die handjievol wat oorbly, sal gered word” (Rom 9:27 NAV). Hy vervolg dan verder:  “Net so is dit ook vandag: daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is” (Rom 11:5 NAV). Dit is dié mense wat uit genade ‘n lewendige geloof in die HERE het. Maar hulle is min soos ons ook in Openbaring lees “Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood” (Open 3:1).

Die grootste probleem van alle tye en vandag nog steeds, is die mense wat uit tradisie Christene is, wat net in naam Christene is, maar dit nie sigbaar uitleef nie. Die egtheid van ons Christenskap en ons geloof kom duidelik na vore wanneer ons in nood verkeer en wanneer die duisternis om ons toesak. As alles goed gaan en ons gesond is, dan sing ons Kersliedere saam, maar as ons geloof beproef word, dan het ons probleme met God. Dan word ons geloof weggeblaas, en dan skreeu die ganse Christenvolk :”hoe kan God dit toelaat?”

"Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie" (2 Kor 13:5 NAV).

-dw-
(Met aanhalings uit: Der Echtheitstest, Wolfgang Wegert)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css