Die Weg

 

Om te dra of gedra te word

Bel het ineengestort, dis klaar met Nebo! Julle gode wat deur julle rondgedra is, word nou op diere, op beeste gelaai. Hulle het ‘n vrag geword vir moeë diere. Dit is klaar met julle gode, hulle het ineengestort hulle kan hulle vrag nie dra nie en word self in ballingskap weggevoer. Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is”. Jesaja 46:1-3 NAV

Babel was vir die Jode die simbool van mag, afgodery en weelde. Vir sewentig jaar het hulle aan hulle eie lyf ondervind wat Babel werklik beteken. Maar die tyd van Babel se ondergang het aangebreek. In die verte is Kores van Persië af in aantog.  Die verhale van sy onoorwinlike mag loop hom vooruit. Kores was ‘n heiden, maar Jesaja noem hom die kneg van die Here:  "..sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel. Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ‘n eretitel hoewel jy My nie ken nie”. (Jesaja 45:3-4). Kores was, sonder dat hy dit geweet het, ‘n kneg van God wat die wil van God sou uitvoer. Hy sou Israel uit die ballingskap verlos.

Bel en Nebo was die vernaamste gode van Babel. Vir die Babiloniërs was hulle magtig, magtiger as die God van Israel wat Sy volk, volgens hulle, nie van die ballingskap kon bewaar nie. Elke Jood wat deur die strate van Babel geloop het, was immers ‘n bewys van hul mag.

Maar nou kom Kores, deur die wil van God, en daar heers paniek in Babel. Al wat die inwoners van Babel kon doen was om te vlug. Maar hulle kon tog nie vir Bel en Nebo sommer net so agterlaat nie, en hulle is tog so geweldig swaar! Wat ‘n groot las om hulle saam te neem! Dan moet hulle maar op pakdiere gelaai word en die arme diere kreun onder die groot las. Kyk hoe  dryf Jesaja nou die spot met die inwoners van Babel!

Om afgode te dra is harde werk! Of dit nou gode is van hout of goud, of ons eie gedagtes en wyshede, of ons geld of goed. Ons het hulle gemaak en ons moet hulle dra en verdedig. Hulle het hulle bestaan aan ons te danke solank as wat ons dit toelaat.

Toe die Jode uit hulle eie land, uit Jerusalem weggevoer is, het hulle geen pakdiere nodig gehad om hulle God met hulle saam te neem nie. Hulle is self deur God gedra op hulle tog na die verre land. Hulle is gedra alhoewel hulle dit nie geweet of verstaan het nie. Net soos ‘n vader sy kind nie van die skielike aanslag van ‘n woeste storm kan weerhou nie, maar sy bang kind daardeur sal dra, so het die Jode dit gedurende die moeilike jare van hulle ballingskap ervaar.  Maar nou eers word dit sigbaar en begin hulle dit begryp: God het ons nie vergeet nie, nie losgelaat nie, al het ons in ons kleingeloof so gedink.

Afgod of God. Om te dra of gedra te word. Dit is die alternatiewe in ons lewe. Om gedra te word beteken nie om dit altyd gemaklik te hê nie, die lewensstorms word ons nie gespaar nie, maar ons kom daardeur.  Die bewarende hand van God word eers sigbaar wanneer ons bereid is om God raak te sien as ons terugkyk op ons lewenspad.

-dw-
(Met aanhalings uit AK Straatsma – Hij sprak en ik hoorde)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css