Die Weg

 

Om die volgende tree te kan gee

"Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan". (Psalm 18:34) 

Staan jy met jou voete vas op die grond? Is jy gereed om die volgende treë na die dag van môre te gee? Sien jy kans vir die uitdagings van die nuwe jaar? Regtig vir alles?

Om te selfversekerd te wees, kan ‘n mens in groot verleentheid bring. Om te twyfelend te wees, kan verhoed dat jy bereik wat nodig is. Om eerlik voor God te wees, bring jou in die regte gesindheid - erken nederig jou afhanklikheid van Hom.

Psalm 18: Die jong man Dawid het vir sy lewe gevrees, want koning Saul wou uit jaloesie hom doodmaak. Daaroor was hy eerlik, hy erken dat bande van die dood hom vasgeklem het. Daar was werklik menslik gesproke geen hoop nie.

Ons kom soms ook in sulke omstandighede, wanneer ons geen uitkoms sien nie. Siekte of ander nood, finansiële probleme, gebroke gesinsverhoudinge, aanslae van die Bose of van mense wat jou ondergang soek, is net eenvoudig te veel. Kersfees- en Nuwe Jaarvierings het geen verskil daaraan gemaak nie. Verlede jaar se moeilikhede staan as’t ware weer hier voor jou op.

Hoe gaan ons in staat wees om die nuwe jaar en sy uitdagings te trotseer?

As mense het ons iemand magtiger nodig as hulp en krag. Die Psalm besing Hom, die almagtige God, die Skepper van hemel en aarde. Met groot mag, wat sigbaar is in natuurkragte wat Hy in sy diens gebruik, maar ook in persoonlike sorg vir sy kinders, het Hy dikwels reeds uitkoms gebring. Daarom kan Dawid getuig: “Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan” (Psalm 18:34).

Dieselfde God van Dawid het deur Jesus Christus ons Vader geword. Jesus het ook gesê: “Aan my is alle mag in die hemel en aarde gegee!” Deur sy Gees gee Hy krag aan elke ware gelowige. Hy gee die oorwinning, geestelik en liggaamlik. Ons hoef dus nie die nuwe jaar sleepvoet in te gaan nie. Met sterk, stewige en vaardige voete – soos ‘n ribbok s’n – kan ons elke gevaar trotseer. Wie op God vertrou, kry nuwe krag.

Mag jy met daardie sekerheid jou voet die volgende tree laat gee!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css