Die Weg

 

In geloof deur die woestyn na die beloofde land

En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan”. Deut. 8:2-3 OAV

Die dag toe die HERE Israel uit Egipte uitgelei het om die beloofde land in besit te neem, het Hy hulle nie op die kortpad na Kanaän geneem nie. Hy het hulle langs ‘n pad van beproewing gelei, eers deur die diep waters van die Rooi See en daarna deur die woestyn na Sinai.  Alhoewel Hy reeds ‘n verbond met hulle voorvaders Abraham, Isak en Jakob opgestel het, het die volk Israel Hom nie werklik geken nie.  Dit sou natuurlik vir hulle maklik gewees het as die HERE hulle direk na Kanaän laat trek het, die inwoners voor hulle uit verdryf het en gesê het: ”Ek het die land aan julle voorvaders beloof, hier is dit, woon maar lekker daarin”. Maar Hy doen dit nie.

Die HERE wou eers dat die volk Hom leer ken. Hy wou Homself aan hulle bekendstel.  Op die stadium toe hulle uit Egipte getrek het, was hulle immers nog baie blootgestel aan die afgode van Egipte.  Hulle moes die ware God leer ken en ‘n verhouding met Hom opbou. ‘n Verhouding wat ewig moes duur. Daarna moes die volk se geloof in Hom beproef (getoets) word. 

Eers toon Hy aan hulle sy mag. Hy laat hulle deur die Rooi See trek (Eksodus 14).  Toe sing hulle: “Die HERE regeer tot in ewigheid” (Eks 15:18).  Maar kort daarna word hulle geloof beproef.  Dit begin by die bitter waters van Mara (Eks 16).  Dan die gebrek aan kos in die Sinwoestyn (Eks 16)  en die gebrek aan water by Rafidim (Eks 17). Elke keer is daar by hulle weer die opstand en die vrae: waarom, waarom, waarom? Waarom moet ons deur hierdie dorre wêreld? Waarom moet ons so swaarkry? Waarom kan ons nie maar in die eerste plek gebly het waar ons was nie? Maar die HERE is genadig, Hy gee elke keer weer uitkoms.  Sal hulle dan nooit net vertrou nie?

By die Sinaiberg stel die HERE Homself aan hulle bekend. “Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.” (Eks 19:4-6 NAV).

‘n Mens sou dink dat die Israeliete se geloof nou vas sou staan. Hulle het immers ervaar hoe die HERE hulle gedra het. Hulle het Sy krag by Sinai gesien sodat hulle daarvan gebewe het (Eks 19:16). Hulle het Sy beloftes gehoor: “Ek, die HERE, stuur ‘n engel voor jou uit om jou op die pad te beskerm en jou na die plek toe te bring wat Ek vir jou reg gemaak het.” (Eks 23:20). Maar toe die Israeliete die beloofde land kon binnegaan was hulle bang. (Num 14). Hulle wou omdraai, terug na Egipte: “Kom ons kies ‘n leier en gaan terug na Egipte toe!” (Num 14:4).  Teen hierdie tyd behoort hulle die HERE hulle God voldoende te geken het. By hierdie geloofstoets faal hulle egter klaaglik. Die kennis wat hulle van die HERE hulle God deur die beproewings heen en by Sinaiberg opgedoen het, word opsy geskuif voor die oënskynlike bedreiging wat die mense van die wêreld vir hulle inhou.  Maar die HERE het ‘n verbond met Sy volk. Hy sal hulle nie aan hulself oorlaat nie. Hy sal hulle wel straf en aan verdere beproewings blootstel. Hy verwag volkome vertroue op Hom en op Hom alleen en ook dat Hy vir Sy verlossingsdade geëer sal word.  

Die volk sou ‘n verdere 40 jaar in die woestyn deurbring. Maar ook gedurende hierdie tyd was die HERE altyd in hulle midde!  (Num 9:15-23). Dit is eers daarna, nadat alle herinnerings aan Egipte uitgewis is, dat die volk in geloof die beloofde land kon binnegaan.

Deur die woestyn van die nuwe verbond

Die geskiedenis van Israel hierbo is ‘n weerspieëling van die nuwe verbond waarmee ons, deur die bloed van Jesus Christus, vanuit die sonde van hierdie wêreld losgekoop is. Ons is ook op pad deur ons eie geestelike woestyn na die Beloofde Land. Dit is die Ewige Koninkryk van God.  Die beginsels van ons reis deur die lewe na hierdie Beloofde Land bly egter steeds dieselfde.  Maar dit is nou nie meer ‘n Moses wat ons daarheen lei nie, maar Jesus Christus self.

Soos die volk Israel afstand moes doen van hulle gebondenheid aan Egipte en sy afgode, so moet ons ook afstand doen van ons gebondenheid aan hierdie wêreld (vergelyk ook Matt 6:19-20). Soos die HERE die volk Israel se geloof herhaaldelik beproef het, so word ons geloof ook herhaaldelik beproef. Soos die HERE Hom deur die wet van Moses aan die volk bekend gemaak het, so maak die HERE Hom deur die bloed van Jesus Christus aan ons bekend. Soos die volk Israel hulle kleingelowigheid en vrees vir die toenmalige wêreld moes oorwin, so kan ons deur geloof hierdie wêreld oorwin(1 Joh 5:4). Soos die HERE hulle voortdurend beskut het, so beskut Hy ons ook iedere dag. Soos Israel uiteindelik, terwyl hulle in volle geloof na die HERE hulle God opgesien het, die beloofde land kon binnetrek, so sal ons ook deur ons geloof in Jesus Christus die Ewige Koninkryk van God mag binnegaan. Soos hulle Hom gedien en eer het, so moet ook ons Hom dien en eer.  Dit is immers die doel van ons lewe.

 ‘ Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam: "Groot en wonderbaarlik is u dade, HERE God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies” ‘. (Openbaring 15:3)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css