Die Weg

 

Heilige harte

Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien” – Matteus 5:8.

Die Here is altyd besorg oor wat in jou hart omgaan. Wat in jou hart omgaan, raak ook jou verstand en jou emosies en jou besluite (jou wil). Hier word dus jou persoonlikheid bedoel. Jou hart bepaal jou hele lewe.

En waar ons as sondaars in die wêreld kom, is dit juis nodig dat jy jou hart bekeer! As iemand 'n gelowige word, dan verander jou hart en dus ook jou persoonlikheid. Al die onrein dinge word dan uit die hart geweer. Uit die hart kom die motiewe vir moord en leuens en slegte dade. Dus moet die hart rein gehou word.

Daarvoor moet jy eerstens ernstig bid, omdat jy dit nie alleen kan regkry nie. Jy het die krag van die Heilige Gees nodig om jou hart te reinig en te bekeer! Jou wil en begeerte kan slegs deur die krag van sy Gees verander word om te wil doen en te wil wees wat Hy van ons vra. Heilige harte, gedagtes en wense. Besig bly met die heilige dinge van God en sy koninkryk. Besig met Jesus, jou Verlosser en Redder.

Die belofte daarby is dat jy dan God sal sien. Geen onheilige kan God ooit sien nie. God kan en wil niks met onreinheid te doen hê nie. Daarom moet jy maar weer biddend vra dat die bloed van Christus jou daagliks reinig van jou sondige hart - dan dra jy die belofte ... jy sal God sien!

Ds Maarten van Helden

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css