Die Weg

 

Jesus Christus het vir ons die lig gebring - dra dit verder

"In Hom (die Woord, Jesus Christus)was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense" - Johannes 1:4.

Lig verdryf vrees, soos vir ‘n kind in die donker nag, vir ‘n sieke alleen op sy bed, vir ‘n bejaarde eensaam in ‘n woonplek. Lig bring ook die waarheid na vore, wanneer drogbeelde van die donker verlig word en jy sien wat dit werklik was. Mense wat sonder die Here leef, wat hulle ore sluit vir die boodskap van God en vir sy opdragte, sit soos ‘n gevangene in ellende en boeie diep in ‘n donker sel (Ps 107:10). Duisternis maak bang. Sondeverslawing bind vas. Die Bose magte verblind die wêreld met die duisternis van sonde. Ons ou natuur, gebroke vanweë die sonde wat ons sedert Adam en Eva oorerf, is vol donkerte. Ons sien nie reg nie, besluit verkeerd, val vas, verdwaal van die regte koers af, maak seer, is selfsugtig, het nie selfdissipline nie ... DUISTERNIS is oral in en om ‘n sondaar.

Jesus Christus het na die wêreld gekom om lewe en lig te bring (Joh 1:4). LEWE in oorvloed – nou en vir altyd. Soos ‘n goeie herder wat vir sy skape net die beste weiding gee. Geestelike kos, die brood van die lewe, sodat ons nooit weer honger sal word nie (Joh 6:35). Verkwikkende geestelike water, sodat ons nooit weer dors sal kry nie (Joh 4:13-14). Lewe in en deur Christus – Hy in ons en ons in Hom. Deur sy Gees woon Hy in ons, sy evangelie lei ons op ‘n nuwe opwindende pad. Die pad van die lewe – oorvloedig, vol hoop, vas en seker.

Jesus is die LIG vir die wêreld (Joh 12:46). “God wat gesê het: 'Laat daar lig skyn uit die duisternis,' het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” (2 Kor 4:5-6). Die lig wat Jesus is en wat van Hom uitstraal, laat ons die sonde raaksien. Sonder sy lig sal ons in die donker voortploeter, val en verdwaal. Sy lig bring ons by die krip van Bethlehem, die kruis van Golgota en die hemelvaart van Galilea. By die krip sien ons die wonder van God wat mens geword het. By die kruis die ontsaglike offer vir ons sondeskuld. By die hemelvaart sy oorwinning en troonbestyging, nadat Hy alles voltooi het sodat sondaars verlos kan word.

Die Lig, Jesus Christus, gee die lig van verlossing, oorwinning en nuwe hoop.

Deur sy Woord en Gees versprei Hy die lig. Mense vertel vir ander mense van die lig. Verlostes leef in die lig, straal die lig uit deur dade van liefde en omgee. Wie is daar op jou pad wat die Lig, Jesus Christus, nog nie ken en volg nie? Laat jou lig so skyn dat dit vir hom/haar na Christus kan lei.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css