Die Weg

 

Moenie aan die slaap gevang word nie

Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn” – Matteus 13:25 NAV.

Ons ken almal die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matteus 13:24-30). Die aangehaalde vers hierbo moet ook saamgelees word met Lukas 22 vers 46: "Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie", 1 Petrus 5 vers 8: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” en Lukas 22 vers31: "Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif".

Dit is geen wonder dat die Here Jesus sê dat ons geestelik wakker moet wees nie. Dit is wanneer jou vyand, die Satan, jou aan die slaap vind dat hy jou die grootste kwaad aandoen. Hoe maklik vind hy nie ‘n gunstiger geleentheid om ons van buite aan te val, as wanneer ons van binne só onbesorg is dat ons geestelik aan die slaap is nie.

Soms lyk dit of die Satan self slaap, want alles lyk so rustig, met skynbaar geen versoekinge wat oor ons pad kom nie. Pasop! Wees dan eers uiters versigtig en op jou hoede! Hy is listig en dit is alles net bedrog, sodat hy jou later sorgeloos aan die slaap kan vang. Hy is altyd wakker en op sy pos, en op die loer vir enige geleentheid wat hom kan voordoen om jou aan te val. Hoe maklik kan ons nie in die strik gevang word deur iets wat totaal onskuldig voorkom nie! Dalk ‘n enkele onbesonne woord, of ‘n skielike prikkel van die gewete oor ‘n lang vergete sonde waaraan jy nooit meer dink nie en waarvoor jy al tien teen een reeds vergiffenis deur Jesus Christus ontvang het.

Daar dreig gevaar aan alle kante, en tensy ons ons krag van die Here put, loop ons almal, ja selfs die sterkstes onder ons, die gevaar om vir ons dodelike skade op die hals te haal. Die Satan hou hom besonders besig om die Godvresendes te sif (Luk 22:31) en is mateloos verheug as hy hulle in sy net kan vang.

Wees dus altyd op jou hoede, nugter en wakker, want die Satan saai sy saad wanneer ons dit die minste verwag! En laat ons verder ook in nederigheid en liefde oor mekaar die wag hou: "Maar solank daar nog ‘n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie" (Heb 3:13).

Verwerk uit: Gulden Schat van CH von Bogatzky (in 1841 na Nederlands vertaal deur GW Stegmann).
Oorspronklike titel: “Güldenes Schatzkästlein der Kinder Gottes(1718).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css