Die Weg

 

Hoe praat ons?

Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle” - Efesiërs 5:4.

Dank aan God pas by julle, by gelowiges, by volgelinge van Jesus Christus. Wanneer mense jou vandag hoor praat, is dit wat gehoor moet word. Jy moet deur die gebruik van jou tong onderskei word van die ongelowiges.

Ja, van die ander praatjies is daar heelwat te hoor! Growwe praatjies is om daardie dinge te bespreek of oor te vertel wat skandelik is. Ligsinnige praatjies handel oor dwase dinge en gee aanstoot, eindelose strydvrae of oppervlakkige gesprekke wat niks met Christus te doen het nie. Dan is vuil praatjies so deel van ons tyd. Dit word in die openbaar gehoor, in vuil grappe, vulgêre opmerkings. Tot groot vermaak van sommige word dit in liedjies ingevleg, of deel van die dialoog van stories en TV-verhale gemaak.

 Die woord van God stel ons voor ‘n ander keuse: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg” (Efesiërs 5:1). (Lees Riglyne vir die nuwe lewe Efes 4:25-5:5). Uit jou woorde sal blyk wie se voorbeeld jy volg. Is jy kind van God – net in naam of in jou wese? Die manier hoe jy praat, is reeds ‘n maatstaf. Kinders van God se woorde word gekenmerk deur dank aan God.

Jy het vandag die wonderlike voorreg om al jou gesprekke deur hierdie “Woord-filter” te laat gaan: Dank aan God staan teenoor growwe, ligsinnige en vuil praatjies. Herinner jouself daaraan dat jy uit genade God se kind is, omdat jy duur gekoop is deur die bloed van Christus Jesus, nuut gemaak deur sy Gees. “Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Efes 4:24).

Getuig van God se sorg in jou lewe, wees dankbaar in voorspoed en geduldig as moeilike tye kom. Leef met hoop, getuig met dankbaarheid oor die almagtige God wat alles beheer en na daardie bestemming lei, waaroor daar geen onsekerheid is nie – die nuwe hemel en aarde wanneer Christus weer kom.

Tussen al die vals note wat vandag die wêreld ingestuur sal word deur growwe, ligsinnige en vuil praatjies, kan jou woorde van dank aan God soos helder opbeurende klanke gehoor word.

Doen dit van harte, met vreugde, en ervaar die seën van die Here daarin!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css