Die Weg

 

Daar is groei vir elkeen wat sy wortels in God se kerk het

"Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God" - Psalm 92:13–14.

Dit is so opvallend dat ‘n mens by elke ou sendingstasie, selfs ou dorpies of afgeleë plaashuise ‘n palmboom vind. Soms ‘n baie lang dun stam met groen blare daar hoog in die wind. Die stam is dikwels verweer deur die son en droogtejare, maar die blare stoot nog nuut en groen uit in die kroon. Baie keer wonder ek waar hierdie palmboom sy lewensvog vandaan kry, omdat die omgewing nie baie gunstig is vir plante nie. Dan besef ‘n mens: sonder vog wat onsigbaar onder die grond is en sonder God wat die palmboom laat groei, sal daar geen lewe in die palm wees nie.

Die Psalmdigter het ook hierdie wonder beleef, dat ‘n palmboom groei deur Gods genade, dat dit daar hoog en fris bloei. Wanneer hy na die mense rondom hom gekyk het, het sy digtersiel die ooreenkoms raakgesien. Daar is groei sigbaar by elkeen wat sy wortels in God en sy kerk het. Hulle word genoem regverdiges. Daardie mense wat hulle hoop op God stel, wat deur geloof in Hom geanker is. Regverdiges weet dat daar net deur God se genade vergifnis van sonde kan wees. So het die tollenaar gebid: “Wees my arme sondaar genadig!” Van Hom sê Jesus dat sy saak met God reg is. Regverdiges, wat vas glo dat Jesus Christus hulle enigste Verlosser is, se lewe word deur die Gees van God gelei. Daar is liefde en reinheid sigbaar. Daaglikse bekering en toewyding aan sy Here is die lewenstyl.

Die regverdige wat sterk soos ‘n palmboom is, het die geheim van die lewe ontdek. Hulle kry hulle krag in die huis van die Here. Daar is groei vir elkeen wat gereeld by die tempel van God kom. Vir elke gelowige sal daar teenstand wees. Soos die warm son en woestynwind teen die stam van die palmboom waai, sal beproewing en geestelike stryd deel van jou lewe op aarde wees. Daar is egter groei gewaarborg vir elkeen wat sy krag in sy Here vind. Ons wortels moet na die lewensvog van die gemeenskap met God uitreik. Ons voete moet die pad na die huis van die Here ken.

Waarlik, daar waar mense hulle ore spits vir God se Woord, om nie net te hoor nie, maar ook te doen – daar sal groei wees. Daardie persone wat gereeld in gebed is, om God te prys en vir hulle en hulle naaste voorbidding te doen, sal ervaar dat Hy die oorwinningskrag gee.

Soek jou krag hierdie week in die Here! Koester jou band met jou gemeente!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief) – Namibië.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css