Die Weg

 

Die toets om jouself werklik te leer ken

Maar toe die regeerders van Babel woordvoerders na hom toe gestuur het om navraag te doen oor die wonder wat in sy land gebeur het, het God hom verlaat. Dit was om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken” – 2 Kronieke 32:31.

"Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen" – Jeremia 17:9-10.

Ons het in die vorige boodskap gelees van Hiskia se getrouheid aan God, hoe die HERE die volk Juda uit die mag van die Assiriërs gered het, hoe Hy vir Hiskia uitermate geseën het en hoe Hy vir Hiskia van ‘n ernstige siekte genees het. Maar dan bewerk die HERE vir hom ‘n toets, ‘n toets wat hy gefaal het. Die HERE het net opsy gaan staan om vir Hiskia aan te toon wat werklik in hy wat Hiskia is, se hart omgaan. Hiskia moes uitvind dat hy nie so volmaak was as wat hy gedink het hy is nie.

Die HERE plaas ons dikwels voor ‘n toets, soos vir koning Hiskia hierbo. Dit is nie goed genoeg dat ons mense se goedkeuring en lof wegdra nie. Hoe staan ons voor God? Hoe lyk ons lewe werklik? God kyk na ons harte, nie na ons uiterlike skyn nie. Wanneer God ons voor ‘n toets plaas, wys Hy ons hoe ons werklik is. 

Dan besef ons gou dat ons maar swak en sondig is. Dit sal ons leer om nie verwaand te word nie, en dat ons in alle omstandighede moet weet dat ons in afhanklikheid van God se genade leef. Ons besef nie altyd hoe korrup ons harte is nie, totdat God ons aan ons eie lot oorlaat om ons eie gang te gaan. So het Hy dit ook gedoen met Dawid toe Dawid die volk laat tel het (1 Kronieke 21). God laat ons sien wat met ons gaan gebeur as Hy ons aan onsself oorlaat. Maar, daaraan kan ons ons troos, al faal ons die toets, God sal weer in ons lewens ingryp en vir ons die regte pad aandui,  maar dan nie noodwendig soos ons dit self wou hê nie.

Dit is goed dat ons ons eie karakter sal leer ken, want daardeur kan ons groei in ons geloof en ons verhouding met God. Die mens wat weet waar sy swakheid lê sal ook gou genoeg besef by Wie sy krag lê en sal nie so maklik ‘n prooi van sy vyand, die Satan, word nie.

Daarom, laat ons ons gedurig en in alle omstandighede eers vra na God se wil met ons lewens - as dit moeilik gaan, maar ook as dit goed gaan. Want dit is God wat ons lewenspad bepaal, nie ons nie.

-dw -

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css