Die Weg

 

Onbeheerste begeertes lei tot die dood

Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep” - Jakobus 1:14.

Soms hoor ons die verontskuldiging, of ons dink dit self: “Ek kan eintlik nie help dat hierdie lelike sonde deur my gedoen is nie.” Dan wys die vinger selfs na God, want Hy is mos in beheer van my lewe. Hy het “toegelaat” dat ek sondig. Adam het al op die manier probeer wegkom. Hy verdedig sy sondedaad deur God te beskuldig: “Die vrou wat U my gegee het ... sy het my van die vrug laat eet” (Gen 3:12). In Spreuke word hierdie optrede beskryf: “Sy eie dwaasheid bring ’n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here” (Spr 19:3).

Die Woord van God plaas ‘n groot stopteken voor hierdie gedagtegang. Dit is nie God wat ‘n mens verlei om sonde te doen nie, maar sy eie begeertes. Jakobus gebruik die beeld van ‘n buite-egtelike verhouding. Jou verkeerde begeerte is soos ‘n vrou wat ‘n man verlei tot seksuele gemeenskap. ‘n Kind word verwek - dit is die sondedaad wat volg op ‘n begeerte. Daardie kind wat verwek is word volwasse, die sonde groei in jou en neem jou hele lewe oor. Onvermydelik lei dit tot die dood, want die loon van die sonde is die dood (Rom 6:21-23).

Waak dus teen die sondige begeertes in jou lewe. Die oorsprong daarvan is dikwels in jou eie gedagtes. Jy is self verantwoordelik vir die gevolge daarvan. Ons leef ook in ‘n wêreld vol versoekinge wat ons gedagtes prikkel om die verkeerde besluit te neem. Pasop om nie te vriendelik te wees met die begeerte nie, dit kan lei tot ‘n verhouding wat jou ondergang bewerk.

Sondige begeertes kan oorwin word. Daardie oorwinning volg op ‘n mooi verhouding, wat lei tot ‘n nuwe geboorte. God se verhouding met ons bring die lewe voort. “Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring” (Jak 1:18). Ervaar jy reeds daardie nuwe lewe in jou? Beleef jy hoe die saad van die Woord deur die krag van die Heilige Gees in jou ontkiem het, groei en goeie vrugte dra? Waak dan daarteen om hierdie nuwe lewe deur sondige begeertes te laat oorheers. Versterk jou gedagtes deur jou te voed met die goeie. Lees opbouende leesstof, waarvan die Bybel die beste is. Moenie jou oë uitleen om jou gedagtes te besoedel nie. Kies die regte geselskap. Vlug weg van daardie situasies wat jou tot die volgende stap van sonde verlei.

Onthou! Jy is verantwoordelik vir jou dade. Moenie iemand anders, of selfs God, beskuldig wanneer jy die slegte vrugte van onbeheerste begeertes pluk nie!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css