Die Weg

 

Een dag op `n slag

"Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” – Matt 6:34

In die bergrede sê die Here Jesus dat ons ons nie moet bekommer nie omdat God vir ons sorg, meer as vir die wilde voëls (Matt 6:26) en die gras van die veld (Matt 6:30). Des te meer moet ons ons nie oor die toekoms bekommer nie, omdat die toekoms in God se hande is.

God skenk ons die lewe in dae, klein enkele dae. Elke dag het sy eie pligte, sy eie behoeftes, sy eie beproewings en versoekings, sy eie vreugde en sy eie verdriet en leed. God gee aan ons genoeg krag vir elke dag. Maar as ons daarop staan om môre se sorge vandag se sorge te maak, dan stapel ons sorge op sorge en sal ons kragte nie genoeg wees om die dubbele las te dra nie. Ons wil dan slimmer wees as God en wil hê dat Hy aan ons meer krag moet gee ter wille van ons grille van bekommernis en wantroue.

Daarom is die les wat die Here Jesus ons hier gee, dat ons elke dag apart moet hou en ons net besig moet hou met wat hierdie dag bring. Charles Kingsley het gesê: “Doen vandag jou plig! Moenie jouself verswak deur jou aandag te verdeel en vooruit te probeer kyk na dié dinge wat jy nie kan sien nie, en tog nie sou verstaan as jy dit wel kon sien nie.” Ons het hoegenaamd niks met die toekoms te doen nie, behalwe alleen om ons daarop voor te berei deur getrou die pligte van vandag na te kom.

Niemand is ooit deur die laste van een dag oorweldig nie. Ons is in staat om ons swaarste las te dra totdat die son ondergaan. En dit is al wat vandag van ons verwag word en wat ons hoef te doen. 

Môre? Ag, ons mag dalk geen môre sien nie, ek en jy kan dan al in die hemel wees. Maar terwyl ons hier is, is God ook hier en sal ons genoegsame nuwe krag vir elke nuwe dag van Hom ontvang.

Een dag op ‘n slag!
Wil ons môre se las vandag al dra?
Wie weet watter hulp is môre daar!
Reeds nou kan dit vir ons gereël wees terwyl ons kla.

Een dag op ‘n slag!
Net ‘n enkele dag hoe lank dit ook mag skyn.
Hoe swaarder die las, so ook meer ons krag!
Dit beloof ons die Woord, en dié bly ewig waar.

J.R. Miller “Daily Bible Readings in the Life of Christ”

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css