Die Weg

 

Om liefde te gee (2)

"Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly .Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet” – Johannes 15:9-12.

In die vorige boodskap is daar gesê, dat hulle wat ware liefde ervaar, dit ook aan ander kan deurgee. Jesus stel dit duidelik:  "Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief”. En dan voeg Hy hierdie opdrag daaraan toe: “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet”, d.w.s, ons moet die liefde van Jesus Christus aan ander deurgee. Dit is ‘n groot opdrag waarin ons ontelbare kere teleurgesteld en ontnugter van sal afkom. Baie pogings om liefde in die wêreld te bring, misluk. Om egter nie daardeur verbitterd te word nie, moet ons ons telkens weer wend tot die oorspronklike Bron van alle liefde.

Jesus sê dat ons blydskap volkome moet wees. As ons met ‘n verbitterde gesig rondloop sal niemand ons glo as ons van liefde praat nie. Christus is geen slawedrywer wat ons met dreigemente of ‘n boek vol voorskrifte wil beheer nie. Hy vat dit in een gebod van liefde saam: ”Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet”. Dit is maklik om te sê: ek is lief vir my ouers, ek is lief vir my man/vrou, ek is ook lief vir God. Maar hoe kom hierdie liefde in ons daaglikse lewe te voorskyn? Waar bly die liefde in ons verhoudings met ons kollegas, werknemers, kennisse en familie? Die liefde wat Jesus bedoel is nie net beperk tot enkele bestemde mense in ons persoonlike lewe nie. Dit is ‘n universele liefde óók vir hulle wat dit nie verdien het nie.

Ons weet dat hierdie liefde altyd weer versteur sal word. Deur die menslike skuld misluk baie van ons liefdespogings. Dit is dan treurig as ons later net die skerwe van die liefde moet bymekaarvee. Hoe anders sou die wêreld nie wees as dit met liefde gevul was nie! Ongeregtigheid en oorlog sou nie in ons woordeskat bestaan het nie. Verhoudings sou nooit verbreek word nie. Maar ons lewe nog nie in die volmaaktheid nie. Dit merk ons dikwels genoeg. Maar die begin is gemaak, omdat Jesus aan ons gewys het waar die liefde eintlik vandaan kom. En Jesus gee sy liefde deur na ons: “Bly in my liefde”. Dit is die bron van krag vir ‘n Christelike lewe.

Liefde kan ‘n mens nie vir homself hou nie. Ons kan nie sê: “ek het lief” nie, want daar is altyd iets of iemand waarop jy jou liefde rig.

Christus se liefde en ons verbinding met God is soos ‘n verwarmer. As ons liefdeshande koud geword het, kan ons dit daar gaan warm maak. En wanneer ons met hierdie warmte vervul is, kan ons ook ander koue hande in ons s’n neem en dit warm maak.

Dr Uwe Czubatynski  (verkort)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css