Die Weg

 

Kyk vorentoe (2)

Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” – Filippense 3:13-14.

Gister het ons gesê dat ons die verlede moet vergeet en vorentoe moet kyk. Maar ook ons as gemeenskap moet vorentoe kyk. Ons hoor dikwels mense praat van “die goeie ou dae”. Daarmee bedoel hulle nie noodwendig mooi herinneringe aan hulle eie persoonlike verlede nie, maar ook aan dié van die gemeenskap. Natuurlik sê Psalm 103:2 (OAV): “Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!”. Hierdie waarheid dien vir ons as bemoediging in die huidige omstandighede. Ons herinneringe moet ons egter nie met ‘n nostalgiese verlange na die verlede terugvoer nie. Ons is besig om vorentoe te hardloop om ‘n prys te verower. Vir baie van ons is daar ook nog die verlies van ‘n geliefde wat ons verhinder om vorentoe te kyk.

Die teoloog, professor D. Beck uit Tübingen, het die volgende aan sy vriend geskryf, toe dié sy vierjarige kind verloor het: “Ek ken jou pyn uit eie ervaring. My twee kinders is destyds van my weggeruk en later ook my geliefde vrou. Die ontsettende ‘waarom?’ het my gemartel . Al die herinneringe .... die verlore vrede. Toe gee die Here vir my ‘n vernuwende woord:  “ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is”. Aan sulke ewige woorde moet ‘n mens jou vasklem soos aan ‘n rots, in die woeste golwe van die siel. Daarom skeur ek my hart weg van die verlede en rig dit vorentoe, na dit wat bo lê, om dáár, in plaas van hier op aarde, met my geliefdes voor die Here te verenig ....  in Homself as ons lewe. So sal dié wat ons vooruitgegaan het, magnete word wat ons harte opwaarts trek. God neem ons weg om aan ons iets groter te gee!”.

Die verlies van ‘n geliefde verduister ons blik na vore. En werklik: daar is tye van treur wanneer ons maar mag huil. Maar ons moenie dat dit ons verhinder om aan te hou hardloop en vorentoe te kyk nie, want die beste lê nie agter ons nie, maar voor ons. Jy baklei met die vraag: “Waarom het dit gebeur?” en kyk agtertoe. Strek jou deur die genade van God weer uit na dit wat voor jou lê, na die doel van die lewe.

Paulus skryf: “ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil 3:14 OAV). Wat is hierdie doel? Paulus noem dit in Romeine 8 vers 29: “dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun”. Die doel is dus om so te word soos Jesus is. Die beloning (prys) is Jesus. Die motivering is Jesus. Om so te wees soos Hy: sonder leuens, sonder trots, sonder nyd, sonder angs, sonder sorge, sonder verganklikheid, sonder armoede, sonder pyn, sonder siekte. Wanneer sal dit geskied? Nie hier op aarde nie.

Enkele verse later herinner Paulus ons: "Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees".  (Fil 3:20-21).

Daar is vreugde in die hemel oor elkeen wat die doel bereik. ‘n Atleet gooi sy hande in die lug as teken dat hy die wenstreep oorgesteek het. Net so is daar 'n gejubel in die hemel wanneer die een hardloper na die ander binnekom. En ons weet hierdie wedloop hardloop ons in Jesus Christus (vers 14) en nie met eie krag nie.

Wat is jou doel? Waarna kyk jy? Moenie agtertoe kyk nie. Kyk vorentoe na Jesus.

(Uit: Das Ziel vor Augen deur ds Wolfgang Wegert)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css